In ’n fees van drieë en hardlooprugby het die verdedigende kampioene die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas die span van die Universiteit van Johannesburg (UJ) net-net geklop met 49-45.
Tydens die derde ronde van die Varsitybeker het ondersteuners in Shimlapark behoorlik hul naels gekou.
Die Shimlas het die eerste 40 minute die wedstryd oorheers. Ramon Uys van die Shimlas het eerste oorgegaan vir ’n drie. Brandley Giddy het die doelskop oorgesit en kort daarna ’n reuse 55 m strafskop oorgeskop.
Die UJ se senter Adriano Jackson het kort daarna ’n drie vanuit hul eie halfgebied gedruk, maar die Shimlas se haker Vice Hofmeyer het kort daarna punte aangeteken en Hlumelo Klaas het ook vir die Shimlas ’n drie vanuit hul eie halfgebied aangeteken sodat die telling rustyd 40-14 was vir die Shimlas.
In die tweede helfte het die UJ oorheers nadat twee Shimlas Ntokozo Hloophe en Marno Stopforth met geel kaarte gestraf is.
Ramon Uys is vir die tweede week agtereenvolgens aangekondig as die Player that Rocked en kan volgende week weer die pienk rugbybroek dra wanneer die Shimlas teen die Arende van die Noordwes-universiteit in Potchefstroom opruk.
In die ander wedstryde wat Maandag beslis is, het die Maties oor die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Ixias gestroomroller met ’n telling van 54-0 in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch,
Die NWU Arende het die span van Wits 39-34 geklop in die Wits-rugbystadion en die Universiteit van Pretoria Tuks is deur Ikeys met 36-29 verslaan.
Die CUT speel Maandag 10 Maart op hul tuisveld teen UP-Tuks, Ikeys speel in Kaapstad teen Wits en die UJ speel tuis teen die Maties.