Siek pasiënte in Bfn huis toe gestuur oor Nehawu-staking

Dis ’n skande dat menseregte so aangetas word.


Nehawu-lede staak voor die Nasionale Hospitaal.Foto: Lientjie Mentz

Dis ’n skande dat menseregte so aangetas word.

Dit was een van die opmerkings van Mariette Pittaway, Vrystaatse DA wetgewerlid gemoeid met gesondheid, tydens ’n besoek aan die staatshospitale in Bloemfontein.

Sy het Donderdag (09/03) saam met die DA se skaduminister vir gesondheid in die parlement, Michelle Clarke, en betrokke DA-raadslede, die Pelonomi-, Nasionale en Universitas- Akademiese Hospitale besoek wat die afgelope week soos ander staatshospitale oor die land heen geteister word deur lede van die National Education Health and Allied Workers Union (Nehawu) wat staak.

Die stakings wat Maandag (06/03) oor loononderhandelings begin het, het tot gevolg dat byna geen operasies uitgevoer word nie en dat talle pasiënte wat wag op lewensbelangrike operasies, huis toe gestuur word.

By al drie hospitale was daar Donderdag vroegoggend stakende Nehawu-lede wat in sekere gevalle selfs pasiënte probeer verhoed het om in die hospitaal in te gaan.

Die stakers het egter laatoggend uitmekaar gespat en dit was stil by ingange na hospitale.

Tydens ’n besoek aan die drie staatshospitale in Bloemfontein is van links Mariette Pittaway, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer, Michelle Clarke, DA-skaduminister vir gesondheid in die parlement en Attie Terblanche, DA-raadslid vir Heidedal in die Pelonomi-hospitaal.Foto: Lientjie Mentz

By Pelonomi en Universitas was daar geen personeel by die toelatingstoonbanke en het vullis in albei se opnamelokale rondgelê.

“Dit is uiters onhigiënies dat ’n hospitaal so lyk,” het Pittaway gesê.

Selfs een van die huisbakke in Pelonomi was vieslik vuil en oral in gange het mediese afval in gange rondgestaan.

“Menselewens word deur die stakers in gevaar gestel,” het Clarke tydens haar besoek gesê. Een dokter het vertel hoe bestuur moet besluit wie in noodgevalle opgeneem moet word en wie nie. Hy sê mense sterf omdat daar min hulp is. Dokters sê weens gebrek aan verpleegkundiges monitor hulle self pasiënte se lewenstekens soos bloeddruk en moet selfs doeke ruil en skoonmaak.

“Ek gaan nou ‘n skrywe rig aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, om dringend in te gryp,” sê Clarke. Dit is onaanvaarbaar dat hospitaalwerkers en pasiënte se lewens in gevaar gestel word oor loononderhandelings.” 

Slegs noodoperasies word nou in Nasionaal uitgevoer.

In al die hospitale was dokters aan die werk en enkele verpleegkundiges in gewone drag het voortgegaan met noodsaaklike dienste.

Kos in al drie dié hospitale word deur personeel soos fisioterapeute en arbeidsterapeute in wegneembakkies aan pasiënte uitgedeel.

By Pelonomi het pasiënte in die chirurgiese saal gesê hulle het sedert Maandag geen medisyne gekry nie.

In al drie hospitale word talle pasiënte huis toe gestuur.

’n Pasiënt in Universitas wat Dinsdag geskeduleer was om haar galblaas te verwyder, moes Donderdag huis toe gaan en haar operasie is nou voorlopig vir Sondag geskeduleer.

Nog ’n pasiënt in dié hospitaal met aneurismes, se operasie is vir volgende week Dinsdag geskeduleer en hy kan nie huis toe gaan nie omdat hy ver weg in die Noord-Kaap woon.

Hospitaalgange in al drie hospitale was Donderdag stil en die meeste beddens in chirurgiese sale was leeg.

Oral in die Universitas- Akademiese Hospitaal is beddens leeg soos pasiënte huis toe gestuur word.Foto: Lientjie Mentz

Mondli Mvambi, woordvoerder vir die departement gesondheid, het Donderdag gesê by Nasionaal keer al meer personeel terug na hul poste.

Hy sê die personeel by die mediese depot in Bloemfontein is terug by die werk danksy ondersteuning deur die polisie.

“Dit stel personeel by die depot in staat om voorraad van verskaffers te ontvang en dit na die mediese geriewe te stuur soos nodig.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.