Bernard en Rench-mari Benadé op die gholfbaan. Foto: Lientjie Mentz


Weens ’n seldsame siektetoestand en die gevaar van ooreising kan twee Bloemfonteiners net sportsoorte soos gholf beoefen.

En dit ook net met ’n gholfkarretjie wat hulle tussen putjies vervoer.

Billa en Mariëtte Benadé het verlede jaar met ’n skok agtergekom dat hul hele gesin aan arritmogene regterventrikulêre kardiomiopatie ly. Dié oorerflike toestand word deur ’n abnormale geen veroorsaak.

Omdat albei ouers die geen het, is hul kinders, Bernard (11) en Rench-mari (11), elkeen met ’n dubbele geen gebore.

Hulle is die enigste twee mense in Suid-Afrika – en twee van slegs vier ter wêreld – by wie die dubbele geen geïdentifiseer is.

Hul toestand is verlede jaar ontdek toe Rench-mari in die hospitaal opgeneem is en ’n defibrillator by haar ingeplant moes word nadat haar hart ritme verloor het. Ná toetse, wat in Amerika gedoen moes word, is die siekte by haar en later haar hele gesin gediagnoseer.

Tot onlangs het Rench-mari nog graag netbal gespeel, maar nou moet albei kinders versigtig wees om enige sportsoort te beoefen wat stremming op hul hart kan plaas.

Hoewel hulle gholf beoefen, is dit steeds gevaarlik om tussen putjies te loop.

“Ná die diagnose het Rench-mari, soos haar boetie, gholf begin speel,” sê Mariëtte.

Bernard beoefen dié sportsoort die afgelope drie jaar, en is in die Vrystaat se o.13-span ingesluit. In dié ouderdomsgroep is hy eerste gekeur in die provinsie.

Rench-mari wil graag soos haar boetie uitblink.

“Elke keer as hulle oefen, en natuurlik met toernooie, moet ons ’n gholfkarretjie huur,” sê Mariëtte.

“As hulle gereeld speel, raak dit baie duur.”

Billa sê dit is om hierdie rede dat hulle besluit het om ’n gholftoernooi aan te bied om geld in te samel om ’n gholfkarretjie te koop.

Die gholfdag word op Donderdag 5 Mei by die Schoemanpark-gholfbaan aangebied. Inskryfgeld beloop R300 en putjies kan teen R1 000 geborg word.

’n Veiling van sportaandenkings – soos ’n Cheetah-rugbytrui en die getekende hemp wat ’n skeidsregter in die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi gedra het – is onder die voorraad.

Belangstellendes kan hulle inskryf deur 051-101-0619 te skakel of Billa by 082-561-0262 te bel. ’n E-pos kan na benadebp@gmail.com gestuur word om ’n putjie te borg.

You need to be Logged In to leave a comment.