Donderdagmiddag. Etenstyd. Bloemfontein. Suburbia. Ek stop voor die hek van die huis om die kind wat by die skool opgelaai is af te laai.
Nou is hy darem baie lus vir die Portugees se varsgebakte kaasbroodrolletjies, sê die kind.
Kon hy nie maar eerder gesê het toe ons in die skoolverkeer op pad was huis toe nie? Dan kon ons sommer op pad terug huis toe by die winkel gestop het, dink ek. Petrol en tyd is immers albei ’n faktor.
Maar, ek sê dit nie vir die kind wat rekordeksamen skryf nie. Ek sal ry om vars broodrolletjies te gaan kry.
Met die terugklimslag in die motor, en met die kind wat nog langs die motor staan, is daar ’n kabaal agter ons in die straat. Die man wat verbystap is vurig aan die praat en beduie. Sy woorde en sinne in Sotho klink luid en onophoudelik op in die welkome lenteluggie.
“Mo-sa-ma-ria” bulder hy die Samaritaan-woord. En “tumelo”, en “mohau”. Geloof en genade.
Sy regterwysvinger staan gepunt in die lug en hy beduie na links en regs. Hy kyk nie na ons nie. Hy stop nie. Hy vra niks. Hy bedel niks. Hy is in sy eie wêreld.
Dae, eerder weke, se pikswart vuil kleef aan die vel van sy gesig en arms en sy hande met die lang naels wat so beduie. Die verslete, nagemaakte krokodilvelskoene aan sy kouslose voete klik-klak op die teer. Dit lyk asof die skoene sy voete seer druk. Die broek en hemp aan sy lyf is te groot, en smerig.
Die man raas verby, straatop. Ons hoor hom nog helder nadat hy al om die hoek verdwyn het.
“Is hy oukei? Wat maak hy?” wil die kind weet.
“Nee, hy is nie oukei nie,” antwoord ek.
“Hy is duidelik mal. Dit klink en lyk of hy dink hy is ’n predikant. Dit klink en lyk of hy dink hy preek vir ’n gemeente wat nie daar is nie,” sê ek vir die kind.
Met die ry winkel toe dink ek hoe verskriklik dit is dat hierdie man op straat is. Hoe die staatsmasjien hom en soveel ander soos hy in die steek laat. Mense soos hy het immers goeie versorging en verblyf in ’n spesiale inrigting nodig.
Op pad winkel toe in die motor dink ek aan die strokiesprenttekenaar Charles Schultz se Snoopy-hond wat sien hoe ’n kat ’n pragtige skoenlapper se vlug en lewe met een haal kortknip. En hoe Snoopy dan sê: “Ek wens ek het dit nie gesien nie.”
Ek wens ek hoef nie die vuil, arm en weerlose man te gesien het nie.
Maar, by die winkel aangekom, sien ek hom weer. Hy steek by die deur vas, by die ou, blinde man wat elke dag sy blou plastiekbekertjie hier skud vir sy daaglikse brood. Die man wat so geraas-preek het, is nou stil. Hy grawe in die sak van sy verslete broek. Die munte uit sy hand val met dowwe geluide in die blinde man se bedelbeker.
Ná sy aalmoes aan die blinde stap die man na die broodrak. Hy grawe weer in sy sak, tel sy oorblywende sente en haal vir hom ’n bruinbrood van die rak af.
Op pad terug huis toe dink ek: Ek is bly ek het dit gesien.
Terug by die huis kan ek vir die kind sê: “Daardie man is toe al die tyd oukei . . . Meer oukei as baie ander mense.”