Siesta opgeknap vir pasiënte se gemak

Die droom om ’n opleidingsentrum vir palliatiewe sorg by die Bloemfontein Hospice te vestig en om die hospies tverder uit te brei, word waar.


Die droom om ’n opleidingsentrum vir palliatiewe sorg by die Bloemfontein Hospice te vestig en om die hospies tverder uit te brei, word waar.

Hanneke Lubbe, bestuurder van die Bloemfontein Hospice, sê hoewel 80% van die hospies se werk steeds huisbesoeke is, is dit wonderlik om ’n plek te hê waar patiënte in hul laaste dae onder kundige toesig op ’n holistiese manier gehuisves kan word.

“Dit is vir ons belangrik dat mense aan die einde van hul lewe so lank as moontlik by hul mense is. Maar die behoefte is groot aan ’n toegeruste hospies waar opgeleide personeel byderhand is om met holistiese versorging en pynbeheer te help.”

Die agtste kamer word nou by die hospies by die Siesta-aftreeoord in Dan Pienaar ingeruim.

Talle veranderinge is die afgelope tyd hier aangebring om werkstasies vir die susters in te rig, vensters is uitgebreek om meer lig die gange te laat instroom en ’n spreekkamer en klein kombuis gaan binnekort hier ingerig word.

“Danksy borge kon ons ’n tuin in die binnehof inrig waar pasiënte wat nog mobiel is, kan uitbeweeg.

“Dit is ’n goeie begin, maar ons benodig nog stoele en tafels en sambrele waar die pasiënte kan sit.”

Personeel is ook uitgebrei en daar is nou twee heeltydse susters en drie deeltydse verpleegkundiges. Saam met dr. Daleen van Jaarsveld word elke pasiënt se versorging deur ’n span kundiges hanteer.

Hanneke sê opleiding van medici en vrywilligers in paleantiewe sorg het die afgelope tyd plaasgevind. Opleiding van verpleeg­kundiges in Trompsburg en Bloemfontein is al in die tyd gedoen. Lubbe sê daar is verlede jaar 230 vrywilligers in palliatiewe sorg opgelei.

“Die hospies is deel van Siesta – dit is hier waar hierdie droom van ’n paar kamers begin het en nou groei.”

Danksy die goeie samewerking kon daar al met die opknapping van van die badkamers by Siesta begin word en kon verfwerk al gedoen word.

Die volgende projek is om ’n kamer in te rig waar vergaderings gehou kan word en ondersteuningsgroepe kan vergader. Ebeth Wilson, voorsitter van die ATKV-tak Gemeenskapsteater, sê dié tak het besluit om die Bloemfontein Hospice vanjaar geldelik en met projekte te ondersteun.

“Dit is een van die min aktiwiewe hospiese in die Vrystaat,” sê sy. “Ons ken almal mense wat deur siekte aan die einde van hul pad op aarde kom en dis wonderlik om te sien met hoeveel sorg en empatie pasiënte hier versorg word,” sê sy.

Van die projekte wat beplan word om geld vir die hospies in te samel, sluit in ’n rolbaldag en ’n toneelstuk Road to Mecca wat einde Maart in Bloemfontein te sien is.

Hou BloemNuus dop vir meer oor dié projekte.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.