Die storm op Saterdag 11 Maart waarin inwoners in die noorde van Bloemfontein tot soveel as 70 mm reën gemeet het, het ’n klein sinkgat wat twee weke gelede op die Hoërskool Sentraal se B-rugbyveld ontstaan het, aansienlik vergroot.
Gerda Spies, woordvoerder vir Sentraal, sê die skoolhoof, Charles Liversage, het toe die sinkgat oorspronklik gevorm het, onmiddellik die situasie aan die Mangaung-metro gerapporteer.
Sy sê dit is munisipale water wat onder dié rugbyveld vloei.
“Die munisipaliteit het kom ondersoek instel en die skool wag nog vir verdere terugvoer daaroor.”
Sy sê die sinkgat is afgesper sodat geen leerling naby aan die sinkgat kan kom nie.
“Die veiligheid van die leerlinge bly ons eerste en grootste prioriteit en die situasie word deeglik gemonitor.”
Liversage is in kontak met die departement van onderwys in die Vrystaat wat onderneem het om die skool by te staan en saam met die munisipaliteit aan die probleem te werk.
Intussen het Raubex Maandag (13/03) behoorlike afsprerrings rondom die sinkgat opgerig.
DA-raadslid Werner Pretorius sê die sinkgat het oor ’n deel van die metro se stormwaterkanaal ontwikkel. “Dit lyk of die sinkgat ontstaan het nadat ’n deel van die stormwaterkanaal ineengestort het.”
Hy sê die DA het die sinkgat reeds op 28 Februarie gaan inspekteer nadat die skool hulle daaroor ingelig het. “Ons het het dit onder die aandag van die waarnemende stadsbestuurder en die waarnemende departementshoof van ingenieurswese gebring, maar hul terugvoer was stadig. Die hewige reën het veroorsaak dat die sinkgat die naweek verder vergroot weens die stromwaterkanaal wat verder verbrokkel.”
Pretorius sê hulle is bekommerd dat die stormwaterkanaal wat beskadig is, ‘n blokkasie kan veroorsaak en selfs verdere skade aan geboue en lewens van inwoners in gevaar stel.
Hy sê instandhouding van die stad se stormwaterstelsels word al vir jare nie gedoen nie. “Dit lei tot sporadiese vloede in talle gebiede en ook skade aan die padinfrastruktuur. Die DA sal druk plaas op die metro om behoorlik te beplan, begroot en instandhouding aan kritieke infrastruktuur gereeld te doen.”
Pretorius het inwoners versoek om vir hul eie veiligheid weg te bly van die sinkgat.