Al die leerlinge van die Laerskool Willem Postma was te sien in die 2014 vertoning Mars.Foto: Verskaf


Ouers en onderwysers staan gereed met grimering en kostuums vir die 900 plaaslike “akteurs” wat hierdie naweek op die verhoog in die Sand du Plessis-teater gaan vermaak.

Dit is die eerste keer in ses jaar waarop die Laerskool Willem Postma weer ’n grootse produksie lewer. Die vorige produksie Mars, was ’n reuse-sukses.

Die musikale blyspel Sirkus betrek elke leerling van gr. 1 tot 7 en selfs die skoolhoof, Jaco Kotzé, maak sy buiging op die verhoog.

Die teks en lirieke is geskryf deur die bekende kinderboekskrywer Jaco Jacobs terwyl alombekende Anton Esterhuyse oorspronklike musiek gekomponeer het.

Xander Steyn is die choreograaf en hy het saam met die onderwysers al die choreografie vir die kinders aangeleer.

Vertonings is Vrydag (14/10) om 18:00 en Saterdag (15/10) om 14:30 en 18:00. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by Pacofs.

You need to be Logged In to leave a comment.