Sjefs daag ander uit met sopprojek

Die liefdadigheidsorganisasie Chefs with Compassion moedig die publiek aan om deel te neem aan ’n nasionale projek om 67?000 liter sop te maak om op Mandeladag (18/07) uit te deel.


Die liefdadigheidsorganisasie Chefs with Compassion moedig die publiek aan om deel te neem aan ’n nasionale projek om 67 000 liter sop te maak om op Mandeladag (18/07) uit te deel.

Die lede van die kykNET-ontbytprogram Ontbytsake, het besluit om kragte saam te span en ander uit te daag om aan dié projek deel te neem.

Die span bestaande uit Dawie Roodt (ekonoom), Leon Gropp (musikant), Eloise Cupido (aktrise), Corli Botha (sjef) en die produksiepersoneel is altyd reg vir ’n uitdaging.

Toe hulle deur AEG uitgedaag is om deel te neem aan Chefs with Compassion se jaarlikse sop-uitdaging, het hulle dadelik ingestem.

Chefs with Compassion is die grootste jaarlikse samewerking van sjefs, gemeenskappe en groot besighede om ’n verskil te maak, en vanjaar beoog hulle om op Mandeladag 67 000 liter sop te maak en te skenk aan verskeie welsynsorganisasies wat kos aan behoeftiges voorsien.

In samewerking met The B-Loved Foundation, ’n nie-winsgewende organisasie wat deur The B4i Project (die oorhoofse maatskappy waaraan Ontbytsake ook behoort) gestig is om minderbevoorregte gemeenskappe te ondersteun, het die Ontbytsake-span onderneem om 10% (dus 6 700 liter) van die totale sop-teiken by te dra.

’n Hoë gehalte droë sopmengsel, wat vinnig in ’n voedsame, heerlike sop omskep kan word, gaan gebruik word. Corli sal Saterdag (16/07) tussen 07:30 en 08:00 op die program wys hoe dit lyk en hoe vinnig dit is om te maak.

Die 67 000 liter-sopuitdaging het op Mandeladag in 2020 begin en het sedertdien al aan sowat 600 000 honger mense kos voorsien.

Organisasies en individue in Bloemfontein wat Maandag of as deel van Mandeladog sop as deel van dié projek gaan uitdeel, word genooi om vir Bloemnuus te laat weet of self foto’s te neem en te stuur na bloemnuus@media24.com.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.