Skade kan só verhoed word

Die burgerregtegroep AfriForum wil met ’n splinternuwe diens sy lede, asook Mangaung se brandweer-afdeling, in die geval van huis- en veldbrande bystaan.


Die burgerregtegroep AfriForum wil met ’n splinternuwe diens sy lede, asook Mangaung se brandweer-afdeling, in die geval van huis- en veldbrande bystaan.

Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuur­spesialis, sê verliese van minstens R36,5 miljard is aangeteken in die meer as 136 600 brande wat van 2020 tot 2022 in Suid-Afrika aangemeld is.

“Voeg daarby ’n algehele verval van munisipale dienslewering – waaronder nooddienste – en die dringendheid vir die vestiging van ’n alternatief word duidelik.”

AfriForum het op Dinsdag 4 Junie sy eerste private brandweerdiens in Bloemfontein bekend gestel. Die burgerregteorganisasie beoog om binnekort dié diens ook na ander sentrums in die land uit te brei.

AfriForum gaan die diens in samewerking met Fire Ops SA bedryf.

Volgens Cooks is die agteruitgang van munisipale brandweerdienste landwyd reeds etlike jare lank sigbaar.

“Die verwoesting wat verlede jaar in Phalaborwa plaasgevind het toe ’n brand in dié dorp uitgebreek het en uiteindelik 13 huise in puin gelê het, is ’n goeie voorbeeld van die gevaar wat munisipale verval kan inhou. In daardie geval was die toerusting van die plaaslike brandweer foutief en derhalwe kon daar nie veel gedoen word om die verspreiding van die brand te verhoed nie. Soortgelyke voorvalle moet ten alle koste voorkom word, en daarom was die vestiging van ’n private brandweerdiens nou vir AfriForum noodsaaklik,” verduidelik sy.

’n Witskrif oor die brandweerdiens wat in Augustus 2020 gepubliseer is, toon dat die regering van die ernstige uitdagings in dié sektor bewus is. Probleme wat hierin geïdentifiseer is, sluit in: onvoldoende aanspreeklikheid by sekere munisipaliteite; ’n tekort aan doeltreffende bestuur; en swak instandhouding van toerusting.

In Julie 2023 het die Oos-Kaap 233 brandweerwaens benodig om genoegsame nooddienste in dié provinsie te lewer, terwyl die provinsie oor net 110 waens beskik, waarvan slegs 62 werkend was.

In November 2023 is ook bevind dat 80% van alle brandweerwaens in die Ekurhuleni-metro stukkend of nie-werkend is.

“AfriForum se brandweerdiens, wat in samewerking met Fire Ops SA bedryf word, is nie net ’n betroubare alternatief tot bestaande brandweerdienste nie. Die gebruik van moderne tegnologie en hoëdruksproei verseker dat brande vinniger geblus kan word en aansienlik minder waterskade aanrig as konvensionele brandbestrydingstegnieke,” sê Cooks.

AfriForum se private brandweerdiens is gestasioneer in AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) in Bloemfontein en word gebied as ’n ledevoordeel aan alle AfriForum-lede in Bloemfontein en die landelike gebiede aangrensend tot die stad.

Fire Ops SA is deur AfriForum gekontrakteer vir hierdie diens. Opgeleide brandweerpersoneel is 24 uur per dag, sewe dae per week, beskikbaar.

“Met die bekendstelling van AfriForum se eerste private brandweerdiens, bou die organisasie voort op sy selfdoenplan waarin gemeenskappe groter verantwoordelikheid vir dienslewering op verskeie vlakke neem.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.