Die skaap sit doodstil terwyl knap hande hom eers dié kant toe en dan daardie kant toe druk.
Leerlinge in die gr. R-klas van die Preprimêre Skool Universitas (Tjokkies) het Dinsdag (01/03) grootoog gekyk hoe skaapskeerders in ’n demonstrasie die wol van skape afskeer.
Al die leerlinge van Tjokkies het dit Dinsdag bygewoon.
Dit was deel van Bloemskou se skaapskeerdemonstrasies wat Izak Kloppers van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) aanbied. Die NWKV is by die opleiding van skaapskeerders in Suid-Afrika betrokke.
Ook leerlinge aan die Private Skool Olive Ridge kon Woensdag die proses sien en vandag (03/03) is dit leerlinge aan die Hoërskool Sentraal wat meer oor skaapskeer leer.
“Die demonstrasies behels hoofsaaklik die skeer van skape, eers met die hand en dan met die masjien. Daarna word die twee skeermetodes in kompetisie met mekaar aangebied.
“Leerlinge leer ook oor die proses waarin die wol gespin en gebrei word nadat dit van die skaap afgeskeer is,” sê Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou.
- Bloemskou word van 27 April tot 7 Mei aangebied.