’n Mens dink dalk die Vrystaatse veld in die lente is net droë gras, maar saam met kenners ontdek jy talle wonders.
Die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika (BotSoc) se Vrystaat-tak het onlangs ’n staptoer deur die tuin en op die Motsetse-roete gereël.
Nagraadse plantwetenskapstudent, Linde de Jager, was die gids wat met ’n groep belangstellendes allerlei interessanthede oor die plaaslike plantegroei gedeel het.
Een van die beddings wat besoekers met ’n skouspel beloon, is die Carpobrotus edulis (suurvy) waar bye behoorlik in dié pers blommetjies se stuifmeel induik en byna verdwyn.
Op die Motsetse-roete wys Linde hoe personeel indringerspesies soos turksvy uitkap en op muurtjies los om te verdor.
Hy wys hoe verdor die opstandingsvaring nou lyk en beduie dat dié inheemse varing met die geringste buitjie reën “ontwaak”.
Besoekers verkyk hulle aan die bobbejaantoontjies wat bloedrooi verkleur om hom teen die son te beskerm.
Ook hier en daar is die vrolike rooi blomme van die Aloe grandidentata (bontaalwyn of kanniedood). Die plant help baie om die hange teen erosie te beskerm.
Enige tyd van die jaar is die staproetes teen die koppies in die tuin ’n heerlike uitstappie vir natuurliefhebbers, fotograwe en almal wat hou van die Vrystaatse landskap.
* Die Vrystaat-tak van die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika (BotSoc bied Saterdag (30/10) om 09:30 ’n opvoedkundige praatjie deur twee kenners aan.
Charissa Worthmann, ’n komiteelid van BotSoc se Vrystaat-tak en ’n doktorsgraadstudent in omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat, gaan gesels oor watter voordele die natuur vir die mens inhou.
Dr. Thabiso Mokotjomela, Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) se direkteur vir biologiese indringers in die Vrystaat en Noord-Kaap, sal gesels oor die nuutste ontwikkelings om indringerplante wat die inheemse plantegroei bedreig, hok te slaan.
Verversings word na die tyd bedien en gaste kan ’n klein donasie maak. Daar sal ook kaartjies met bonatiese kuns teen R50 per pakkie te koop wees, asook konfyt wat van die kei-appel gemaak is.
Lede van die vereniging kry gratis toegang met hul lidmaatskapkaarte, terwyl besoekers toeganggeld vir die botaniese tuin betaal.