Met die oorhandiging van die pap, saam met van die mense wat die Beudene-sentrum daagliks bywoon, is van links Gabriel Jardim, Makoane Moeletsi, Beulah van Aswegen (hoof van Beudene), Philip Swart (Harvest Food) en Kyle du Plessis. Foto: Lientjie Mentz


Met ’n konsert wat in Oktober as deel van die Humanity Project in Bloemfontein en Kimberley aangebied is, is geld ingesamel om voedsame pap vir verskeie liefdadigheidsorganisasies te skenk.

PJ Powers, die Soweto Gospel Choir en die Bloemfontein-kinderkoor (BCC) het op 22 Oktober in die Kopanong-ouditorium in die stad opgetree en met dié spesiale konsert geld ingesamel vir die projek wat deur die Vernon Philander-stigting en Harvest Food deur middel van die nuutgestigte Co Legacy gedryf word.

Philip Swart van Harvest Food het op 22 November 200 sakkies Peak-mieliepap by Beudene, ’n dagsorg- en terapeutiese sentrum vir kinders en volwassenes met spesiale behoeftes, afgelewer.

Beulah van Aswegen, hoof van Beudene, sê dié 500 g-pakkies pap gaan ’n reuse-verskil maak.

“Sommige kinders hier kan net sagte kos eet, so hierdie pap gaan regtig baie help.”

Swart sê hul doel is om gesonde pap met hoë voedingswaarde te skenk aan organisasies waar dit benodig word. Dié pap is hoog in veselinhoud en voeding­stowwe, wat dit waardevol maak vir kinders en bejaardes wat nie met gewone kos genoeg hiervan inkry nie.

Swart en sy span het ook ’n groot skenking aan Engo gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.