Die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede spog met ’n splinternuwe kisvrieskas.
Dit is danksy lede van die ATKV se Gemeenskapsteatertak wat op 28 Mei die vrieskas wat hulle geskenk het, gevul het deur lede van die publiek te nooi om kosskenkings by die Prellerplein-inkopiesentrum te doen.
Die tak beplan heelwat projekte vir later vanjaar, maar vir nou wou lede graag ’n bydrae tot die gemeenskap maak.
“As deel van die ATKV se #weesdieverskil-veldtog het ons besluit om ’n kisvrieskas aan die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede te skenk,” sê Ebeth Wilson van dié ATKV-tak.
“Ons wou ook graag bykomend kos, vleis en vars produkte aan die huis skenk, daarom die dag van insameling.”
Die vrieskas en inkopies is later die dag aan Jackie Malan, maatskaplike werker, en haar span van Jean Webber oorhandig
Die huis bied verblyf vir 37 inwoners wat weens uiteenlopende oorsake gestremd is. Die meeste van hulle is óf parapleë óf kwadrupleë.
Hul ouderdomme wissel van 21 tot 76 jaar.
Malan sê die Jean Webber-huis is die enigste tuiste wat baie van die inwoners het, aangesien baie nie familie het nie of die familie ver woon.
Jean Webber het heeltydse versorgers wat in skofte werk om inwoners met basiese take soos bad en eet te help, asook om rond te beweeg.
Sy sê hulle is baie dankbaar vir die groot skenking van die ATKV se Gemeenskapsteatertak.
“Ons het egter ook baie onmiddellike behoeftes, soos vars groente en vrugte, doeke vir volwassenes, ’n kruiwa, toiletware soos seep, sjampoe, lyfroom en tandepasta, asook kontant vir inwoners se mediese uitgawes.”
Rig navrae by 051-430-2883.