Inwoners van Sannie se Kombuis in Hilton is op Dinsdag 21 Maart op Menseregtedag en ook Internasionale dag vir Mense met Downsindroom met pakkies bederf.
Shéri Brynard, internasionale ambassadeur vir mense met Downsindroom, asook ander lede van Bloemfontein se Volwasse Downsindroom-klub, het toiletware bymekaargemaak en dit aan Martie Esterhuizen van Sannie se Kombuis oorhandig.
Martie sê Sannie se Kombuis het 24 inwoners wat elk drie etes per dag ontvang.
“Ons is baie afhanklik van skenkings,” het Esterhuizen tydens die oorhandiging van die pakkies gesê.
“Skenkings soos hierdie toiletware beteken regtig baie vir ons inwoners.”
Sy sê benewens die inwoners se toelae wat van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike dienste (Sassa) ontvang word, is dié huis afhanklik van die publiek om hulle met skenkings te ondersteun.
“Ons grootste skenker is Jesus wat vir ons sorg.”
Lede van die Volwasse Downsindroom-klub het op 10 Maart hul kwartaallikse byeenkoms gehou, en dit was terselfdertyd Shéri se 41ste verjaardag.
Shéri se ma, dr. Susette Brynard, sê hulle het sommer nog gaste met intellektuele gestremdhede na die partytjie by hul huis genooi.
Dorothy Russel het voorgestel dat almal iets saambring sodat die inwoners van Sannie se Kombuis bederf kon word.
- Shéri het ook Dinsdag met leerlinge van die Pholoho- Spesiale Skool in Mangaung vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes gaan gesels. Sannie se Kombuis is ook ’n begunstigde van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds.