Virseker is op soek na ‘n nuwe Afrikaanse verjaardagliedjie. Het jy dalk ‘n idee? Credit: Getty Images

Afrikaans het ’n buitengewone mylpaal bereik – ’n volle 100 jaar as ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Dis nie net ’n rede vir feesviering nie, dis ’n geleentheid om ons kultuur en identiteit met nuwe energie te vier.

Maar kom ons wees eerlik – wanneer laas het jy regtig opgewonde geraak om “Veels geluk liewe maatjie” te sing?

Op 8 Mei het gesprekke begin broei: Is dit nie dalk tyd vir ’n nuwe verjaardagliedjie wat die hartklop van vandag se Afrikaanse gemeenskap weerspieël nie? Een wat ’n nuwe generasie trots laat voel om in Afrikaans te vier?

Neem deel aan Virseker se projek om ‘n nuwe Afrikaanse verjaardagliedjie te skryf. Credit: Biserka Stojanovic

“Ons wil nie net deel wees van die viering van Afrikaans se 100ste jaar nie – ons wil help vorm gee aan die volgende 100,” sê Morné van Emmenes, bemarkingshoof van die versekeringsgroep Virseker. “Daarom het ons begin met ’n landwye veldtog om ’n splinternuwe Afrikaanse verjaarsdagliedjie te skryf,” sê Van Emmenes. “Een wat jol, dans en die taal se kreatiewe gees vier. ’n Liedjie wat jou storie kan vertel.”

Afrikaans is uniek, lewendig en groeiend – en die taal se verjaarsdagliedjie moet dit weerspieël. Hierdie liedjie moet ‘n deel van mense se lewens word, iets wat jong en oud met trots kan saam sing.

Of jy nou ’n digter, rapper, musikant, skoolkind of net ’n Afrikaanse liefhebber is – stuur vir Virseker jou woorde, idees, lirieke, rympies of selfs net ’n tune. Neem ’n video op, fluit ’n wysie, of skryf sommer net iets wat vir jou lekker Afrikaans klink. Die enigste reël? Dit moet jou hart laat sing. Daar is nog ’n bietjie ekstra pret: deur deel te neem staan jy ook ’n kans om lukrake geskenkpakke en inkopiebewyse te wen.

“Ons het ’n ongelooflike paneel van Afrikaanse kunstenaars gereed om jou te inspireer – insluitend bekende name soos Sonja Herholdt, Early B, Karen Zoid en Anton Goosen. Hulle sal later help kies watter voorstelle in finale liedjies verwerk word,” sê van Emmenes.

Besoek https://www.virseker.co.za/onsverjaar/ vir wenke, inspirasie en jou kans om deel te wees van hierdie unieke musiekbeweging.

Laat Afrikaans se verjaardaglied van die toekoms begin met jou idee. In Afrikaans. Vir Afrikaans.

You need to be Logged In to leave a comment.