In een van die eerste gevalle dat ’n sportfederasie en ’n kultuurvereniging hande vat om ’n sport te bewaar, is die nasionale kettieskietkampioenskapsbyeen-koms op Saterdag 26 Oktober in Bloemfontein aangebied.
Deelnemers van Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat het meegeding om as die beste kettieskut aangewys te word.
“Dit is nie net vir mik en skiet nie. Daar is baie tegniek by dié sportsoort betrokke,” vertel Henk le Roux, een van die deelnemers wat vier medaljes (drie silwer en een brons) losgeskiet het.
Nelmarie Oosthuizen, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kettieskietfederasie (SASF) se bemarkingskomitee, sê kettieskiet is deesdae ’n internasionale sportsoort, en daar is selfs sprake daarvan dat dit tot op Olimpiese vlak kan vorder.
Die Voortrekkers neem aan kettieskiet deel en het vir die byeenkoms by die Fichardtpark-sportklub verskeie deelnemers opgelewer.
“Dit is nou Die Voortrekkers se amptelike sportsoort,” sê Oosthuizen.
Die Voortrekkers en die SASF werk deesdae saam om hierdie tradisie te laat herleef as moderne en tegniese nasionale sportsoort.
Oosthuizen sê die SASF is die nasionale federasie wat hard werk om die uitgebreide kettieskiet-sportdissiplines te bevorder.
Saam met Le Roux het nog twee Voortrekkers, Conrad Botha (lid van die Voorslag Voortrekkers en leerling aan die Hoërskool Jim Fouché) en Janco Pheiffer (lid van die Pres. MT Steyn Voortrekkers en leerling aan Grey-kollege) puik presteer.
Le Roux het die algehele beste puntetelling behaal.
Conrad (15), Le Roux se kleinseun, het ses goue en twee brons medaljes verower; en Janco (10) drie goud, drie silwer en ’n brons.
Conrad het goud verower in die afdeling vir seuns o.16 (SASF nasionale liga) oor 10 m, 15 m, 20 m, in die ope-kampioenskap, in die SASF- plaaslike veldteikenskiet, asook in die Voortrekker-reeks oor 20 m.
Janco het goud behaal in die Voortrekker-reeks oor 5 m en 10 m, en algeheel was hy tweede.
Kettieskiet is ’n inklusiewe sportsoort en is geskik vir klein en groot.