Skerp stygings kom in Mangaung

Daar wag skerp tariefstygings vir inwoners van die Mangaung-metro indien die begroting soos dit Vrydag (03/06) op die raadsvergadering goedgekeur is, deurgevoer word.


Daar wag skerp tariefstygings vir inwoners van die Mangaung-metro indien die begroting soos dit Vrydag (03/06) op die raadsvergadering goedgekeur is, deurgevoer word.

Die vergadering is verlede week telkemale uitgestel en is eindelik Vrydagaand gehou.

Die VF Plus hou egter vol die uitslag van die stemming oor die 2022-’23-begroting was ongrondwetlik.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-raadslid, sê sy het die speaker, Stefani Lockman-Naidoo, daarop gewys dat die begroting nie volgens grondwetlike vereistes aanvaar is nie.

“Slegs 45 van die 101 raadslede het ten gunste van die begroting gestem. Volgens wet moet ’n meerderheid van raadslede ’n begroting goedkeur, wat 51 raadslede in die Mangaung-metro moet wees,” het sy aan Bloemnuus gesê.

Heelwat raadslede het nie die vergadering bygewoon nie.

Snyman van Deventer sê indien die begroting nie teen die begin van die finansiële maand op 1 Julie goedgekeur is nie, moet die raad deur die provinsiale regering ontbind word en ’n herverkiesing van die raad plaasvind.

“Ons moet maar sien of ’n nuwe vergadering binne een week sal plaasvind.”

Die begroting waaroor Vrydag gestem is, se tariefverhoging is ver bo die inflasiekoers van 5,9%.

Die salaris- en vergoedingsbegroting van die munisipaliteit neem met 9,47% toe tot R1,394 miljard.

DA-raadslid Dulandi Leech sê dié party sal voortgaan om die ANC se begroting teen te staan omdat dit nie realisties is of ’n ware weergawe van die inwoners van Mangaung se behoeftes is nie.

Van die verhogings sluit in eiendomsbelasting wat met 6% verhoog, elektrisiteit met 7,47% en water met 9%. Daar word verwag dat Bloemwater sy tarief met 9% sal verhoog waarop ’n verdere 4,2% voorgestel is met die effek dat die verhoging 13.2% is.

Die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, het op die begrotingsvergadering ’n begroting van R8,811 miljard voorgelê waarby kapitaaltoelae van R7,980 miljard uitgesluit is.

Volgens Siyonzana het die metro se skuld op 28 Februarie reeds R8,06 miljard bedra en het die metro se vermoë om dienste te lewer, afgeneem.

Hy het gesê die metro bly in ’n geldkrisis weens die ekonomiese resessie en die metro se posisie verswak oor die laer invorderingskoers.

Die nasionale ingrypingsplan het op 1 Junie begin en daar sal nou gesien moet word of dit ’n merkbare verandering in dienslewering en bestuur van die metro teweeg sal bring.

Ons moet maar sien of ’n nuwe vergadering binne een week sal plaasvind. – Dr. Elizabeth Snyman van Deventer

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.