Spanne moes kopkrap om uit te pluis watter plek in Suid-Afrika klink of daar ’n bejaarde hoender bly en wat Joshua na die reën se regte naam is sonder om op Google te loer.
Die jaarlikse vasvra aangebied deur die Oranje-Rapportryers, vanjaar op 27 September, was groot pret.
Vanjaar was die 29ste keer dat die vasvra-geleentheid aangebied is, en dit is soos gewoonlik ’n hoogtepunt in die Oranje-rapportryers se skakeling met ander kultuurorganisasies in die stad.
“Dit was wonderlik om soveel jonger mense te sien wat vanjaar aan die vasvra by die Laerskool Sentraal deelgeneem het.
“Ter herinnering aan oom Jan Lambrechts wat dié jaarlikse instelling destyds begin het en nou baie siek is, sal dit voortaan die Jan Lambrechts-vasvra genoem word”.
Só het prof. Barry Frey, sekretaris van die Rapportryers wat vanjaar se byeenkoms gereël het, aan die vasvra-deelnemers gesê.
Drie spanne van drie elk van die Van Riebeeck-volkspelelaer, asook ’n span elk van die Vryburgers, die VF Plus, Vriende van die Oorlogsmuseum, die Ou Presidensie- Historiese Vereniging en die Oranje-Rapportryers, het dit teen mekaar uitgespook in ’n vinnigste-vingers-formaat.
Die Dameskring, waarvan lede die afgelope paar jaar gewys het dat hulle erg mededingend is, het vanjaar met die reëlings van die kompetisie gehelp.
Deelnemers moes vrae beantwoord uit nuusgebeure, algemene kennis, sport, musiek, Afrikaanse Letterkunde en vrae uit die Evangelies van Johannes en Handelinge in die Bybel. Uiteindelik was dit een van die spanne van die volkspelelaer teen die Vriende van die Oorlogsmuseum wat dit in die eindronde uitgespook het om as wenspan gekroon te word.
Met net ’n kortkop was dit Louis Venter en Eben en Simone Proos van die Vriende van die Oorlogsmuseum wat die ander uitgestof het.
Deelnemers moes nie-bederfbare kos saambring wat aan Vrystaat-Versorging in Aksie oorhandig is.