Skielike afsterwe van Human Auto se Jacques ruk gemeenskap aan die hart

’n Ware legende in die Vrystaat, Jacques Strydom – ’n man van visie, passie en onuitputlike toewyding – is in die vroeë oggendure op 54-jarige ouderdom oorlede, vermoedelik aan ‘n hartaanval. Ten tyde van sy afsterwe was hy in Victoria-Wes vir die sa


’n Ware legende in die Vrystaat, Jacques Strydom – ’n man van visie, passie en onuitputlike toewyding – is in die vroeë oggendure op 54-jarige ouderdom oorlede, vermoedelik aan ‘n hartaanval. Ten tyde van sy afsterwe was hy in Victoria-Wes vir die saalperdskou daar.

Jacques Strydom en sy vrou, Mica. Foto: Facebook

Jacques was nie net ’n sakeman nie, maar ’n mens wat ’n verskil gemaak het in die lewe van baie, en wat altyd sy hand en hart oopgehou het vir die mense rondom hom.

Hy het as die eienaar van die Human Auto Ford-groep sy stempel in die sakewêreld afgedruk, met takke in Bloemfontein, Welkom, Ficksburg en Kimberley. Sy invloed het egter verder as net sy besigheid gestrek. Jacques was ’n man wat sy drome waar gemaak het, met die hulp van die sterk mense waamee hy homself omring het. Hy het nooit opgehou om na groter hoogtes te streef nie, maar was altyd eerlik, nederig en bereid om sy sukses in die gemeenskap terug te ploeg.

Jacques het ’n passie vir sy plase, die natuur, wild en saalperde gehad. Elkeen wat hom geken het, sal onthou hoe hy elke jaar die Victoria-Wes-skou bygewoon het vir die saalperdeskou – ‘n gebeurtenis wat naby aan sy hart was. Hy was ’n man wat die lewe voluit geleef het, maar altyd die behoeftes van ander in gedagte gehou het.  

Sy vriende, familie en sakelui is diep geskok deur die onverwagsheid van sy afsterwe.

“Ek gaan hom baie mis,” sê Pine Pienaar, groep- uitvoerende bestuurder van Human Auto en vriend van Jacques.

“Elke dag het ek minstens twee of drie keer met hom gepraat. Sy visie vir sy sakebedrywighede en alles waaraan hy sy hand geslaan het, was vir my ’n inspirasie. Hy het nooit opgehou dink nie. Hy het altyd planne gehad en planne gemaak. Niks was ooit te veel vir hom om vir die gemeenskap te doen nie.”

Op die grootste manne-aand wat die Vrystaat ooit gesien het, het Jacques homself onmiskenbaar gewys as ’n man wat nie net vir sy besigheid geleef het nie, maar ook vir die mense. Hy het teen Dricus du Plessis geveg om geld in te samel vir die Hoërskool Pres. Steyn, ’n daad wat sy hart vir die gemeenskap weerspieël het.

“Jacques was meer as net ’n entrepreneur – hy was ’n vriend, ’n mentor en ’n inspirasie vir almal rondom hom. Hy het die wêreld op sy unieke manier aangeraak. Mag sy nalatenskap, sy visie, en sy liefde vir die mense van Bloemfontein altyd in ons harte voortleef,” sê Pine.

Jacques was meer as net ’n entrepreneur – hy was ’n vriend, ’n mentor en ’n inspirasie vir almal rondom hom. Hy het die wêreld op sy unieke manier aangeraak. Mag sy nalatenskap, sy visie, en sy liefde vir die mense van Bloemfontein altyd in ons harte voortleef,

Jacques word oorleef deur sy vrou, Mica, en twee dogters, Chrisel en Jazelle, asook sy ma en twee susters.

Hy en sy vrou, Mica, het in 2017 die Be Human Middelwater Plaas gekoop en dit tot ‘n gewilde onthaal- en kuierplek ontwikkel.

Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van BloemNuus, sê dit is ’n groot boom wat geval het.

“Nie net was Jacques ’n gesoute besigheidsman nie; hy het ook ‘n oop hand vir baie instansies gehad. Namens BloemNuus, sterkte aan die familie en geliefdes.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.