‘n Vrouedag-skietgeleentheid word Saterdag by die Arizona-skietbaan buite die stad aangebied. Foto: Verskaf

Vroue kan op Saterdag 9 Augustus hul slag kom wys tydens ‘n geleentheid op die Arizona-skietbaan buite Bloemfontein.

Die dag, spesifiek gemik op vroue om Vrouedag te vier, gee deelnemers die geleentheid om met hul eie handwapers, of die wapens wat op die dag beskikbaar gaan wees, te skiet.

Zane Koeberg van Koeberg Firearm Solutions sê die Vroue-pretskietdag dien as bewusmaking dat vuurwapens nie net vir selfverdediging nie, maar ook vir ontspanning, aangewend kan word.

“Saterdag se skiet is ‘n lekker familiedag,” verduidelik Koeberg.

Omdat dit Vrouedag is, is dit ‘n lekker geleentheid vir vroue om hul gesinne saam te bring. Dit is ook vir ervare skuts, maar meer spesifiek vir vroue wat lanklaas geskiet het of nog nooit ‘n vuurwapen hanteer het nie.

Koeberg sê daar sal ervare baanoffisiere wees wat die vroue touwys sal maak.

Daar is ook windbukse en ketties waarmee kinders kan skiet.

“Nog ‘n nuutjie op die dag is die skietsimulator waarop deelnemers op ‘n skerm kan skiet.”

Die skietdag vind van 09:00 af op die Arizona-skietbaan in Spitskop plaas.

Deelnemers met hul eie vuurwapens en koeëls betaal R200, en besoekers wat geen vuurwapen het nie en wil skiet, betaal R550. Kinders jonger as 18 jaar betaal R50.

Daar sal ook kosstalletjies en ander pret wees.

Rig navrae by 082 376 0435.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article