Skoene wys vroue se spoor

Drie museums in Bloemfontein nooi die publiek om hulle vandeesmaand spreekwoordelik in die skoene te plaas van vroue wat ’n verskil gemaak het om vryheid en gelykheid in die same­lewing te verseker.


Drie museums in Bloemfontein nooi die publiek om hulle vandeesmaand spreekwoordelik in die skoene te plaas van vroue wat ’n verskil gemaak het om vryheid en gelykheid in die same­lewing te verseker.

Om Vrouemaand te vier, bied die Nasionale Museum en sy samewerkende museums ’n uitstalling genaamd “Stap ’n myl in haar skoene en ander stories” aan. Dié uitstallings is van Vrydag (05/08) af in die Nasionale Museum, die Freshford-huis­museum en die Oliewenhuis-kunsmuseum te sien.

Die uitstalling van skoene in die Freshford-huis duur tot 12 Augustus, so daar is nie lank tyd om daarna te gaan kyk nie.. Die uit­stallings in Oliewenhuis en die Nasionale Museum duur tot 11 September.

Elmar du Plessis van die museums se versamelingsbestuurafdeling sê hulle gebruik skoene as metafoor vir die fisieke, maar ook emosionele, pyn wat vroue verduur het om vryheid en gelykheid te kry.

“Skoene van verskillende tydperke word uitgestal om aan besoekers ’n kykie te gee na die fisieke skoene en gebeure van daardie tye.”

Dit kan verdeel word in die “flapper” van die jare twintig, die “vroueweermag” van 1930 tot 1940, die “Stepford wives” tot omtrent 1950, die feministiese beweging van die jare sestig tot die jare sewentig en die vrou in die werkplek, van die jare tagtig af.

Shani Perelmut met die hulp van Aphivia Limo sal soos gewoonlik gaste deur die Freshford-huis­museum neem en hulle meer insig gee in die lewe van die oorspronklike inwoners en hul gebruike. In verskillende vertrekke van die huis sal skoene uit verskillende tydperke gesien kan word.

Dié pragtige ou Victoriaanse huis in Kellnerstraat 31, is deur John Harrison ontwerp, en hy en sy gesin was ook die eerste inwoners van Freshford in 1897.

Die huis is in 1986 as ’n museum ingerig en deur die jare heen het familielede verskeie meubelstukke en aandenkings geskenk wat dié huis vestig in die era toe Harrison en sy familie daar tuisgegaan het en dit boonop ’n eie­soortige atmosfeer gee.

Skilderye van Harrison, soos die oorspronklike skildery wat hy gemaak het toe hy die huis ontwerp het, is in die huis te sien.

Talle eerstes vir ’n huis in Bloemfontein kan by Freshford gesien word, soos dat dit die eerste huis in die stad was wat oor ’n vertrek beskik het wat as badkamer gebruik is. ’n Vroeë voorbeeld van ’n elektriese verwarmer, die eerste in die stad, is ook hier te sien.

Die museum is weeksdae van 09:00 tot 16:00, sowel as Saterdae van 10:00 tot 15:00 oop vir besoekers.

Minimale toegangsgeld word gevra.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.