Die swak onderhoud van die stad se paaie en die afwesigheid van padtekens, verkeerstrepe en selfs verkeersligte, asook verkeersbeamptes wat nêrens te sien is nie, hou gevaar vir bestuurders en voetgangers in.
Dit is veral rondom talle skole in die stad waar gevaarlike toestande heers.
Werner Pretorius, DA-raadslid, het ’n inspeksie met die lede van die burgemeesterskomitees vir infrastruktuur en openbare veiligheid vir 27 Julie gereël, maar hulle het geen terugvoering gegee nie en ook nie vir die vergadering opgedaag nie.
Pretorius en ’n wykskomiteelid, Tammy Morey, wou die komiteelede wys hoe swak die padveiligheidstekens en verkeerstrepe by die Laerskool Brandwag, die St. Andrew-skool en die Laerskool Willem Postma is.
By die Laerskool Brandwag is die strepe by die voetoorgang in Durantstraat byna onsigbaar, en daar is geen padtekens nie.
Pretorius sê dit is veral in Melvillerylaan dat motors en taxis baie vinnig ry en min ag slaan op die klein sirkel hier. Veral wanneer die skool begin en uitkom, is daar baie klein kinders in die omgewing. Die verkeer van voertuie wat vinnig en onverskillig bestuur word, hou ’n groot gevaar vir hulle in.
Stephanie Janse van Rensburg, voorsitter van die Laerskool Willem Postma se beheerliggaam, sê daar is veral groot gevaar vir kinders wat Albrechtstraat by die voetoorgang, wat glad nie gemerk is nie, oorsteek.
“Mense ry ook baie onverskillig om die sirkel by dié skool,” sê sy.
“Die baan by die skool wat motoriste in die linkerkantste baan dwing om in Albrechtstraat in te draai, se streep is baie dof, en mense ry onverskillig hier.”
Sy sê dit is nie net wanneer die skool begin en uitkom dat verkeer ’n gevaar vir leerlinge inhou nie, maar ook op sportdae en met ander saamtrekke wanneer baie voertuie om die skool parkeer.
Op Bloemnuusse Facebook-blad sê lesers daar is baie skole waar verkeer ’n groot probleem skep. Dit sluit in die Laerskool Bloemfontein, Roseview en Brebner.
Christo Groenewald van AfriForum sê dit is maar by alle skole in die stad ’n kwessie.
“Ek onthou die dae toe voetoorgange toegemaak is en kinders veilig kon oorstap. Daar was 95% van die tyd ’n verkeersbeampte byderhand, en daarom het motoriste nie kanse gevat nie.”
In ’n stad waar verkeersveiligheid glad nie ’n voorkeursaak is nie, is dit te verwagte dat daar talle verkeersongelukke is.
Pieter du Plessis, woordvoerder vir VR Sekuriteit en -nooddienste, sê hulle was in Julie op 209 ongelukstonele, waarin nege mense oorlede is.