Die twee Afrikaanse skole in die suide van Bloemfontein – Hoërskool Fichardtpark en Hoërskool Jim Fouché – het mekaar met mening gepak in Saterdag 6 April se wedstryde in die Wesgrow Sentrale Skolesportreeks by Fichardtpark.
’n Hewige donderstorm het aan die einde van dié opwindende dag die laaste woord gespreek in die harde rugbywedstryd tussen die Fichardpark Leeus en Jim Fouché Green Machine.
Fichardtpark het van die begin af veglus getoon en Fichies se kaptein en generaal Divante Claasen het Brandon de Wee van Jim Fouché heeltemal oorskadu en menige teenstander na wind laat gryp.
Fichies se voorry Zaine van Zyl, MJ Hattingh en Nathan Swanepoel het die trant van die wedstryd bepaal met stormlopies oor die voordeellyn.
Toe die wedstryd in die tweede helfte deur die weer kortgeknip is, was Fichies redelik gemaklik voor.
Hulle wen die wedstryd met 24 – 15.
By die meisies- en seunshokkiespanne was die uitslae baie gelyk.
Die eerste meisies-hokkiespan was in ’n titaniese stryd gewikkel waar nie een van die twee spanne wou bes gee nie.
Dié spanne speel gelykop met 0 – 0.
Tydens die seuns se wedstryd was Fichies se hokkie-seuns vroeg rug teen die muur en het in ’n stadium met 2 – 0 agter geloop.
Fichies het teruggeveg en het danksy twee doele van hul eie seker gemaak van ’n gelykop-telling van 2 – 2.
Jim Fouché se eerste netbalspan was te sterk vir Fichies, en Jim Fouché het met ’n wentelling van 39 – 13 oorheers.
Daar lê nog baie werk vir Fichies se netbalspanne voor onder afrigting van die Protea-netbalspeler Karla Pretorius.
Sien die volledige uitslae op BloemNuus se Facebook-blad.
Die Hoërskool Sentraal speel Saterdag teen Diamantveld.