Skone kuns geniet

Gaste kon hulle Sondag verlustig in die pragtige klanke van Franse gedigte en musiek op The Secret Artist’s’ Club se eerste geleentheid in Bloemfontein.


Gaste kon hulle Sondag verlustig in die pragtige klanke van Franse gedigte en musiek op The Secret Artist’s’ Club se eerste geleentheid in Bloemfontein.

Diandra Steenekamp verduidelik sy het ’n visie dat die gemeenskap alle vorme van kuns saam geniet en vier.

Sy sê haar doel is om ’n platform te skep vir kunstenaars om hul kennis oor ’n onderwerp waarvoor hulle so lief is en waarin hulle soveel tyd spandeer, met almal te deel.

“Dit is ook ’n geleentheid om vir soliste optredes te skep.”

Die kunstenaars wat sy by die Secret Artist’s Club wil betrek, is nie net beperk tot die musiekwêreld nie, maar ook visuele kunstenaars en vakmanne om hul werk uit te stal en te verkoop.

Om aan te sluit by al hierdie doelwitte is Sondag se Sunday Lunch Serenade á la Française aangebied in die Yellow Crane-kunsgalery net buite Bloemfontein op die Nebo-landgoed met ’n Franse tema wat alles saamgebind het.

Liza Oosthuizen, direkteur en Franse onderwyser by die Alliance Française de Bloem het Franse gedigte voorgelees.

Die musiek wat gaste tydens ’n langtafel-ete met Franse geregte kon geniet, is verskaf deur Petro Engelbrecht (klavier en trekklavier), Emily Dangwa (sopraan), Jaco Cilliers (tjello) en Renée Neuhoff (dwarsfluit).

Steenekamp sê sy wil ’n verskeidenheid geleenthede aanbied, elk met ’n unieke tema.

“Elke geleentheid moet ’n spesiale ervaring vir gaste wees en hulle aanspoor om hul eie drome na te leef. Elkeen teenwoordig is a geheime kunstenaar in hul harte,” sê sy.

Raak deel van die klub deur vir Steenekamp ’n WhatsApp-boodskap te stuur na 072-726-8052.

You need to be Logged In to leave a comment.