Skoner, veiliger woonbuurte self geskep

Die verskillende takke van AfriForum in Bloemfontein het in Mei verskeie skoonmaak- en veiligheidsprojekte aangepak.


Die verskillende takke van AfriForum in Bloemfontein het in Mei verskeie skoonmaak- en veiligheidsprojekte aangepak. Dit sluit geleenthede in Langenhovenpark, Uitsig, Universitas, Wilgehof, Hospitaalpark, Rayton-Heuwelsig en Fichardtpark in.

Die Langenhovenpark-tak het sy volhoubare skoonmaakprojek in Du Plessis-rylaan voortgesit. Daar is al heelwat roosbome hier geplant, wat weekliks versorg word. Die tak het ook al meer as 200 ha se gras in verskeie veldjies in Langenhovenpark gesny, danksy ’n nuwe grassnyer wat die tak gekry het. Die verkeersstrepe en ander merke op die pad in Du Plessis-rylaan word oorgeverf.

In Uitsig, Generaal de Wet, Pellissier en Hospitaalpark is vullis opgetel.

Die Rayton-Heuwelsig-tak het reeds drie parke as deel van die tak se volhoubare skoonmaakprojek skoongemaak, en Anchor of Hope ondersteun hulle hiermee. Die parke wat deur die tak skoongemaak word, is dié in Lucas Steynstraat, een in Flockemanstraat en die een in David Botha-singel. Hierdie tak werk ook nou saam met Cityrun om die park in Reyneckelaan skoon te maak.

AfriForum se Wilgehof-tak het tussen 5 en 25 Mei saam met verskeie woonbuurtverenigings, asook die DA, groot skoonmaak­projekte aangepak. Bossiekappers en grassnyers is ingespan, en hulle het ook vullis opgetel. Die tak het ook gras en bossies gesny en verwyder in verskeie stukke veld en op verkeers­eilande, onder meer in Montgomeryweg en Aalwyn-, Roselaan, Halse- en Mauritzstraat, asook by die Rooi­kappie-kleuterskool.

Die Wilgehof-tak het ook op 28 Mei die NG kerk Gardeniapark met ’n veiligheidsoptrede bygestaan, en verder het hulle ’n bewusmakingsveldtog saam met AfriForum se sekuriteits- en mediese vennote in Bloemfontein, VR-Security en VR-Medical, gedoen. Die tak het op hierdie dag vir die gemeenskap gewys waarmee hulle besig is en die AfriForum-lugvleuel het gewys hoe hommeltuie ingespan word om misdaadbekamping te versterk.

AfriForum se Pellissier-buurtwag het op 10 Mei ’n bewusmakingsveldtog saam met VR-Security en VR-Medical aangebied.

Altesaam 178 patrollies is deur 54 patrollielede in Mei afgelê. Die volgende voorvalle is hanteer en aangemeld:

  • Die Rayton-Heuwelsig-buurtwag het bystand aan die polisie verleen met die aankeer van verdagtes in verband met kabeldiefstal.
  • Die Uitsig-buurtwag het ’n patrollie saam met die polisie en die plaaslike gemeenskapspolisiërings­forum gehou.
  • Langenhovenpark se buurtwag het op 6 Mei ’n optrede saam met die polisie en verskeie ander belanghebbendes aangepak waarin 38 bos­slapers verwyder is en geneem is vir ondervraging om te bepaal of hulle by misdade in die omgewing betrokke was.

VR-Security en VR-Medical staan ook die AfriForum 911 voertuie by. Die reaksie-eenheid van AfriForum 911 het AfriForum-lede in die hantering van 42 klagtes bygestaan, en die mediesereaksievoertuig het die gemeenskap bygestaan in 19 noodgevalle, wat motorongelukke en ander mediese noodgevalle insluit.

Die AfriForum-takke het ook sedert verlede jaar deurlopende instandhoudingswerk by die President Brand-begraafplaas, asook die Brits Monument by die Ou Presidensie, gedoen. Anchor of Hope ondersteun die takke in dié projekte.

“Veiligheid en netheid vir ons gemeenskap bly ’n voorkeursaak,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van Bloemfontein.

“Hierdie suksesse is ook te danke aan ons buurtwaglede se harde werk om die gemeenskap te bedien. Ons het uitstekende verhoudings met verskeie sekuriteitsmaatskappye, en ons moedig ondernemings en ander lede van die gemeenskap aan om ons hande sterk te maak deur by hierdie projekte betrokke te raak.

“Ons almal streef na ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms, nie net vir ons nie, maar ook vir ons kinders.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.