Die sukses van die Laerskool Onze Rust in die suide van Bloemfontein is danksy ’n uitstekende en toegewyde beheerliggaam, bestuurspan en onderwyskorps.
Onze Rust is ’n Afrikaans en Engels dubbel- en parallelmediumskool in Uitsig. Die skool het Christelike waardes as grondslag, maar maak ruimte vir enigeen wat hom of haar met die skool se norme en waardes vereenselwig.
Die skool se leerlinge is net so divers soos die reënboognasie van Suid-Afrika.
Die waarnemende skoolhoof van Onze Rust, Jaco Richards, sê onderwysers en die bestuurspan werk daaraan om gelukkige kinders met ’n goeie grondslag na die hoërskool en uiteindelik die wêreld in te stuur.
Almal se hande word versterk deur ’n ongelooflike ouerkorps.
Die skool maak voorsiening vir leerlinge van gr. R tot gr. 7.
Die pre-primêr huisves kinders van 4 jaar tot gr. RR. Van die pre-primêr tot aan die einde van die laerskool word daarna gestreef om leerlinge te help om hulself uit te leef en op alle moontlike gebiede te ontwikkel.
Elkeen moet op akademiese, emosionele, liggaamlike en geestelike (Christelik) vlak leef en groei.
Onderwysers met die nodige kundigheid en ervaring is elke dag pligsgetrou besig met onderrig en opvoeding hetsy in die klas, op die sportveld, en tydens toere of uitstappies.
’n Volledig toegeruste rekenaarsentrum en lokale met internet en TV-toegang is beskikbaar.
Noodsaaklike dienste soos didaktiese hulp, remediëring, arbeidsterapie, ’n heeltydse maatskaplike werker en ekstra klasse is beskikbaar.
By Onze Rust is daar geen rede waarom leerlinge nie hul volle potensiaal kan bereik nie. Gedurende 2022 is Onze Rust aangewys as een van die toppresterende laerskole in die Motheo-distrik en het daarvoor ’n eerbewys ontvang.
Dié eerbewys het getuig van onderwysers en leerlinge se harde werk. Sportsoorte soos rugby, netbal, hokkie, sokker, krieket en atletiek word aangebied. Onze Rust het vanjaar 36 provinsiale verteenwoordigers in rugby, hokkie, netbal, swem, atletiek en koor opgelewer. Met meer as 40 meisies by elke ouderdomsgroep, het Onze Rust se netbalspanne die afgelope tyd naam gemaak in die A-liga in Motheo, asook in die Vrystaat. In rugby ding spelers mee in die A-liga en lewer jaarliks Vrystaat-spelers op.
Hokkie is uiters gewild onder leerlinge. Vanjaar het 17 spelers Vrystaat-kleure verower. ’n Splinternuwe kunsvesel-hokkieveld word by die skool gebou wat tot groot voordeel van hokkiespelers by dié skool sal wees.
Op kulturele gebied word aktiwiteite soos revue, skaak, koor en redenaars aangebied en kompetisies soos ATKV-, wiskunde-olimpiades en kunswedstryde word ondersteun.
Rissies vir Jesus is ’n vrywillige buitemuurse aktiwiteit om kinders die geleentheid te gee om die storms van die lewe te oorkom deur hulle lewe in Jesus geanker te hou.
Onze Rust se grondslagfase-koor bestaan uit ongeveer 60 lede van gr. 1 tot gr. 3 en die senior koor bestaan uit ongeveer 80 lede van gr. 4 tot gr. 7. Albei kore het A++ by die Vrystaatse kunswedstryd ontvang.
Die skool se revue is ’n gewilde aktiwiteit en dit bied leerlinge die geleentheid om elkeen se talente en liefde vir musiek en dans uit te leef.
By die jaarlikse Revista het vier groepe leerlinge wat deelgeneem het, uitmuntend presteer.
Gereelde toere en uitstappies vind plaas soos byvoorbeeld die gewilde gr. 7-toer na Durban en omgewing.
Elke leerling kan dus kies waar hy of sy tuis voel en hulle word aangemoedig om deel te neem. Dit is belangrik vir die holistiese ontwikkeling van die kind.
Daar is nog plek in sekere grade vir 2025. Aansoekvorms kan afgehaal word by die skool in Generaal Hattingstraat 14.
Die sluitingsdatum is 31 Augustus.
Ouers wat hul kinders wil inskryf by een van die suksesvolste laerskole in die land, moet gou spring om teleurstelling te voorkom.
Maak ’n afspraak deur 051-522-6901 te skakel.