Skool dankbaar vir 30 jaar

Die CVO-skool Dankbaar in Bainsvlei vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar.


Die CVO-skool Dankbaar in Bainsvlei vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar.

Dié vieringe kom te midde van talle prestasies, soos die matriekklas van 2021 wat verlede jaar ’n 100%-slaagsyfer in die eindeksamen behaal het. Dit is die 18de jaar agtereenvolgens dat dié prestasie behaal word.

Leerlinge aan die CVO-skool Dankbaar word talle geleenthede gebied, veral wat godsdiens en kultuur betref.

Die skool beskik oor dinamiese, toegewyde personeel wat aan elke kind individuele aandag gee. Leerlinge kry ook geleentheid vir gratis middagstudie.

By hierdie dinamiese skool, wat in die rustige omgewing buite Bloemfontein geleë is, is Christelike waardes die kern.

As deel van sy verjaardagvieringe bied die skool talle gesellighede aan, waarvan die eerste ’n gholfdag is wat Donderdag (10/02) op die Schoemanpark-gholfbaan aangebied word.

’n Geselligheid vir die manne, met Wicus van der Merwe as gaskunstenaar, word op 11 Maart by die skool aangebied. Potjiekos word op dié geleentheid bedien.

Die vroue kry ’n beurt op 12 Maart wanneer Ilné Fourie haar lekkerlag-vertoning Vettie Boemboem gaan lewer en Ilzé Jordaan, voedseldeskundige en leefstylafrigter, as gasspreker gaan optree.

“Kom kuier gerus by die CVO-skool Dankbaar of besoek ons op Facebook en Instagram,” nooi die skoolhoof, Pieta Oosthuizen.

“By dié skool is elkeen iemand.”

  • Belangstellendes kan 051-451-1334 skakel om meer inligting oor die skool en sy gesellighede te bekom.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.