Die CVO-skool Dankbaar het op Woensdag 23 Februarie sy 30ste bestaansjaar op ’n luister- en kleurryke wyse gevier.
Met baie geloof en genade het dié onafhanklike skool in Bainsvlei op 15 Januarie 1992 sy deure vir 27 leerlinge geopen. Skoolklere was daar egter nie – dié is eers twee jaar later goedgekeur.
Die voorsitter van die beheerliggaam, Reneé Janse van Rensburg, is ook op daardie historiese dag as ’n st. 5-leerling by die skool ingeskryf.
“Die blymoedigheid van die ouers en vriende van die skool was aansteeklik,” sê sy.
“Gou is pouses deur die aanbou van nuwe klaskamers in beslag geneem.”
Sedertdien is honderde matrikulante deur bekwame personeel se hande. Vir die afgelope 18 jaar spog dié skool se matrieks met ’n 100%-slaagsyfer.
Volgens Van Rensburg is die afgelope 30 jaar ’n bewys dat die onmoontlike tog moontlik gemaak kan word deur harde werk en toewyding.
Een van die hoogtepunte van die vieringe was toe David Fourie (79) leerlinge en onderwysers begelei het om die skoollied te sing.
Hy het 30 jaar gelede die skoollied getoonset.
Helderkleurige ballonne in die skool se kleure is losgelaat deur die personeel en leerlinge wat die langste by die skool betrokke is. Hul betrokkenheid wissel van vier tot 30 jaar.
Verder het ouers en leerlinge 30 inheemse kareebome op die terrein geplant.
Volgens Pieta Oosthuizen, reeds 20 jaar die skoolhoof, beplan hy om nog lank jukskei in die koelte van hierdie bome af te rig.
Drie valskermspringers van die Bloemfontein-valskermklub het verdere feestelikheid aan die dag verleen toe hulle op die skool se rugbyveld land, en die vieringe is afgesluit met heildronke op die skool en op die toekoms.
- ’n Tandemsprong met ’n personeellid of ouer word vir die reünie-naweek in Oktober beplan.