Skool doen regstappe

Die Hoërskool Sentraal het in ’n nuusverklaring aangekondig dat hy regstappe teen die Mangaung-metro gaan neem oor die sinkgat op sy sportveld wat steeds nie herstel is nie.


Die Hoërskool Sentraal het in ’n nuusverklaring aangekondig dat hy regstappe teen die Mangaung-metro gaan neem oor die sinkgat op sy sportveld wat steeds nie herstel is nie.

BloemNuus het op 10 Oktober verlede jaar geskryf oor die werk op die skoolterrein wat sloer sedert ’n sinkgat daar in Maart 2023 gevorm het.

Pieter Muller, voorsitter van Sentraal se beheerliggaam, sê ondanks herhaalde versoeke, en gevolglike beloftes van die metro, is geen verdere vordering behaal nie.

“Sedert die ontstaan van die sinkgat het die skoolgemeenskap geduldig op oplossings gewag, maar die voortdurende vertragings het ’n ernstige invloed op ons sportprogramme en infrastruktuur,” sê Muller in die verklaring.

“Aangesien geen bevredigende vordering gemaak word nie, het die skool geen ander uitweg as om regstappe teen die metro te neem nie. Dit is jammer dat albei partye nou regskoste moet aangaan – geld wat eerder aangewend kon word vir die ontwikkeling van kinders of die ondersteuning van armes in nood,” sê hy.

Muller doen ’n beroep op alle betrokke partye om dringend en deursigtig op te tree sodat die probleem opgelos kan word.

“Die Hoërskool Sentraal bly daartoe verbind om ’n veilige en ondersteunende omgewing vir ons leerlinge te verseker en sal alle toepaslike maatreëls tref om hierdie saak op te los.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.