Koshuisleerlinge van die Christiaan de Wet-skool in Dewetsdorp gaan môre huis toe gestuur word weens die voortslepende tekort aan water by dié skool.
Die skoolhoof, Boeta Potgieter, sê die skoolbestuurspan en beheerraad het besluit dat die skool Woensdag om 10:00 gesluit gaan word omdat hulle nie meer die leerlinge aan onhigiëniese toestande bloot kan stel nie.
“Ons het opgaartenks van 300 000 liter water, maar selfs dié water het die naweek opgeraak,” sê Potgieter.
Dit kom nadat die dorp sedert Woensdag (21/09) nie water ontvang nie.
“Ons het regtig baie geld bestee om die voortdurende tekort aan water te bowe te kom, maar ’n week sonder water is meer as wat ons kan hanteer.”
Daar is 250 leerlinge in die koshuis en die skool het versoek dat dié kinders huis toe gaan, ’n paar dae voor die Oktober-vakansie aanbreek.
“Ons het 92 matrieks wat nou rekordeksamen skryf en ons gaan ons bes doen om hulle te akkommodeer totdat hulle Donderdag klaar geskryf het.” Hy sê die gemeenskap help met water.
“Ons het geen keuse gehad as om drasties op te tree. Die badkamers is ’n absolute gemors. Beloftes is gemaak dat die watertoevoer herstel sal word, maar teen vanoggend moes ons die besluit neem om die skool te sluit.”
Maruping Rapudungoane, operasionele hoof en onderhoud van Bloemwater, sê dit is weens die voortdurende beurtkrag dat Dewetsdorp nie water ontvang nie.
Maryke Davies, DA-raadslid, sê egter daar is kragprobleme by die Mooiplaas-pompstasie wat Dewetsdorp se water pomp. Verder moet die pompstasies op dorpe soos Dewetsdorp en Wepener met die hand weer aangeskakel word ná beurtkrag.
“Ons gaan nou vra dat Centlec en Eskom pompstasies vrystel van beurtkrag en ons hoop oplossings kan vir die probleme gevind word.”