Uitblinker-netbalspelers is van links Lenell Rossouw, Dimpo Liefo, Michaela Hendriks, en Milaine FritzFoto’s: Verskaf


Die Dr. Böhmer-vaardigheidskool het die afgelope jaar op vele terreine besonder goed presteer.

Die hoof, Kallie Viljoen, sê hy is baie trots op die onderwysers en leerlinge wat die skool se naam hoog hou.

Die skool bied verskeie sport- en kultuurbedrywighede aan, wat aan elke leerling die geleentheid bied om te presteer.

Die lys sportprestasies wat vanjaar behaal is, is indrukwekkend.

Die eerste en tweede netbalspan het op 5 Mei in Ladybrand in die Vrystaat se suid-liga meegeding.

Dr. Böhmer se eerste span was die wenner van die liga. Vyf meisies is gekies om aan die Vrystaat-proewe deel te neem: Nadine van der Ross, Angela Muller, Madipo Mohloboli, Michaela Hendriks en Lenell Rossouw.

Angela en Michaela is vir die Vrystaatnetbalspan gekies wat in die wintervakansie van 3 tot 7 Julie aan die winterspele deelgeneem het. Die span het ’n silwermedalje gewen en Michaela is as ’n belowende jong speler aangewys.

Die skool se seuns het op hul beurt in rugby presteer.

Spelers van die skool het van 26 tot 30 Junie deelgeneem aan die Cravenweek vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes (LSOB), wat vanjaar in George aangebied is.

Die Vrystaatspan, waarin tien van Dr. Böhmer se leerlinge gespeel het, was vyfde in die toernooi.

Ethan Nelson en Aiden du Plessis is as man van die wedstryd aangewys vir onderskeidelik die eerste en tweede wedstryde, en Ethan is vir die Vrystaat-akademiespan gekies.

Walter Kotze van die skool is die keurder en Frans Sisita, ook aan Dr. Böhmer verbonde, die LSOB-span se voorspeler-afrigter.

Boonop blink leerlinge van Dr. Böhmer in sokker uit.

Die skool se o.19-span was eerste in die Vrystaat-LSOB-liga.

Ronaldino Paint, Katleho Lekebotsoane en Matela Madi­kwe is in die Vrystaat-o.19-seunspan ingesluit wat aan die nasionale kampioenskapsbyeenkoms in KwaZulu-Natal deelgeneem het. Die meisies wat in dié toernooi deelgeneem het, is Bontle Sootho, Masabatha Mokoro, Angela Muller, Nosizwe Klaas en Desiree Brown.

Die skool se o.16-span het deelgeneem aan ’n LSOB-sokkertoernooi wat in Virgina aangebied is. Agt skole het meegeding en Dr. Böhmer se o.16-span het die toernooi gewen.

Die spelers was: Karabelo Ncinci, Sinako Nxilolo, Keketso Motseki, Olwami Mkrola, Hlalefo Motsoeu, Hlompo Tlhokoa, Katleho Molibeli, Omphile Kgongana, Katleho Nteo, Ntando Maeyane, Raseate Seteleng (kaptein), Katleho Mohothoane, Bokang Damane en Boitsepo Scheepers. Boitsepo is as die speler van die dag aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.