Die Primêre Skool Jordania in Bethlehem in die Oos-Vrystaat is ’n waardegedrewe skool wat leerders toerus met vaardighede om ’n verskil te maak.
Die skool het sowat 900 leerders van gr. R tot gr. 7, en 61 toegewyde personeellede wat onderwysers, terrein- en administratiewe personeel insluit.
Elke leerder kry die geleentheid om akademies tot sy of haar volle potensiaal te ontwikkel.
Akademie is die skool se topprioriteit.
Die leerders presteer gewoonlik uitstekend, en ’n hoë akademiese standaard word deur die onderwysers en leerders gehandhaaf.
Die skool maak van die Future Fun Caps-program as hulpmiddel gebruik om leerders se leerervaring te verdiep. Personeel is ook deel van die Skoleondersteuningsentrum se vakverenigings sodat hulle op die hoogte van die nuutste onderwyspraktyke kan bly.
Waar moontlik word uitstappies deur die jaar vir alle grade aangebied. Groot opwinding heers veral oor die akademiese toer wat weer vanjaar aangebied word. Op sportgebied is Jordania nog altyd ’n krag om mee rekening te hou.
Die skool het ’n trotse 100%-tradisie waar elke leerder 100% vir hul skool, maat en hulself gee.
Verskeie sportsoorte word aangebied sodat leerders aan ’n wye verskeidenheid sportsoorte – naamlik atletiek, netbal, rugby, krieket, hokkie, tennis, skaak, landloop en bergfietsry – blootgestel kan word.
Leerders geniet dit om deel te neem en aktief te bly. Hulle kry ook die geleentheid om op ’n kultuurvlak deel te neem en te presteer.
’n Junior en senior koor, spreekkoor, kuns, musiekblyspele, redenaarspanne, Voortrekker-kommando en pompons gee leerders die geleentheid om hul talent te slyp. Sedert 2021 word foto-grafie ook as buitemuurse aktiwiteit aangebied. By Jordania word daar gepoog om ’n positiewe opvoedkundige atmosfeer te kweek.
Die jaartema vir 2022, “Wees Waarde Wenners”, sal leerders aanmoedig om deur hul Jorrie-waardes op karakterbou te fokus.
Leerders word geïnspireer om 100%-Jorries te wees en hul waardes in die gemeenskap uit te leef om van die samelewing ’n beter plek te maak.