Chantell Hewett, gasspreker by Johan Vorster, voorsitter van van die Ouerforum van Martie du Plessis. Credit: Lientjie Mentz

Dit was ‘n heerlike bederfdag vir meisies van die Martie du Plessis-skool wat saam met hul Ma’s en ander ouerfigure gekuier het.

Martie du Plessis se Ma-en-dogtertee is vanjaar ‘n tweede keer deur die skool se Ouerforum aangebied, op Saterdag 10 Mei.

Johan Vorster, voorsitter, sê Ouerforum reël kwartaaliks aktiwiteite en geleenthede vir leerlinge, ouers en onderwysers.

Die hoof van die Martie du Plessis-skool, Francois van Heerden (links), saam met die komitee verantwoordelik vir die reëlings van die Ma-en-dogter-tee. Van links is Coreen Stroebel, Veronica van Aarde, Mariette van der Watt en Johan Vorster (voorsitter van die Ouerforum). Foto’s: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

“Ons bied dit aan om leerlinge en hul ouers hoop te gee.”

Ouers kry só die geleentheid om, saam met terapeute en onderwysers, leerlinge se drome te herbou.

Benewens die Ma-en-dogtertee het die skool se Ouerforum vanjaar al ‘n Valentynsdagsgeselligheid, ‘n ouerdansparty, pa-en-seun-aande en ‘n roomysverkoping aangebied.

Bykomend tot sosiale interaksie wat dit bied, word die geleenthede gehou vir geld om die skoolomgewing op te knap en te verbeter.

Dié groepie wat die Martie du Plessis-skool se Ma-en-dogtertee saam geniet, is van links Anne Hammond (gr.9) en Sonja Coetzee (gr. 10), met Suzanne Venter en haar dogter, Zandri (gr. 10).

So is geld wat met projekte van die skool se Ouerforum ingesamel is, gebruik om ‘n ekstra hek by die skool te bou, vertel Vorster.

“Ouerforum bied elke ouer die geleentheid om by Martie du Plessis betrokke te wees, en só ‘n betekenisvolle verskil te kan maak waarby elke kind in die skool baat.”

Op vanjaar se geselligheid was Chantell Hewitt die gasspreker.

Hewitt, eienaar van die Chantell Hewitt Academy of Dance (C.H.A.D.), het haar lewensverhaal met gaste gedeel.

Sy was drie maande oud toe die seldsame siektetoestand Neurofibromatose (soms olifantmansiekte genoem) by haar gediagnoseer is. Dit veroorsaak dat gewasse aan veral haar kop aanhou vorm.

Dit het meegebring dat haar gesig al hoe meer misvormd geraak het.

Hewitt het haar eerste breinoperasie nog voor haar tweede verjaardag ondergaan.

In 2019 het sy ‘n groot operasie in Durban ondergaan om groeisels rondom haar regteroog te verwyder.

Ongeag haar gesondheidsuitdagings, leef sy ‘n vol lewe en is dankbaar dat sy kort ná die Covid-19-pandemie eie dansateljee kon open.

Hewitt dans al vandat sy drie jaar oud is en dit is haar passie om kinders in onder meer moderne dans en hip-hop af te rig.

Groepe van dié dansers van verskillende ouderdomme het Saterdag opgetree. Dit was veral die voorskoolse dansgroepies wie se oulike passies gaste bekoor het.

Ná die dansers se optrede op die geselligheid kon gaste heerlik saamkuier.

You need to be Logged In to leave a comment.