’n Inkleurkompetisie waarin die prys kaartjies vir Bloemskou vir ’n gesin van vier was, het ’n hele skool aan die inkleur gekry.
Kort nadat Bloemnuus op 20 April ’n inkleurprent ter viering van Bloemskou se 140ste bestaansjaar gepubliseer het, het Louisa Schoeman, ’n onderwyser aan die Pholoho- Spesiale Skool in Joe Slovo, gebel om te hoor of die hele skool mag inskryf.
Hulle wou egter nie skoukaartjies wen nie, maar net deelneem.
Al 570 leerlinge van die outisme-klassies, van gr. 1 tot gr. 5, asook die skoolverlaters het daarna ’n afgerolde Bloemskou-inkleurprent ontvang wat hulle ingekleur het.
Op ’n vrolike geselligheid op 12 Mei het personeel van Bloemnuus en Bloemskou die skool besoek, waar die leerlinge in die onderskeie jaargroepe wie se prent die mooiste ingekleur is, pryse van Bloemnuus en Bloemskou, asook geskenkies en ’n sertifikaat ontwerp deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater, ontvang het.
Die wenners was:
Kategorie 1: Outisme – Aphelele Lebevana (11);
Kategorie 2: Graad 1 en 2 – Omphile Seekoei (9);
Kategorie 3: Graad 3 – Boitumelo Hlahlele (12);
Kategorie 4: Graad 4 – Nyakallo Kokoropo (4);
Kategorie 5: Graad 5 – Thandiwe Nkane (16); en
Kategorie 6: Skoolverlaters – Luvuyo Mpata (16).
Die adjunkhoof, Manki Mokone, het namens die personeel alle betrokkenes bedank vir hul omgee vir Pholoho se leerlinge.
“Selfs al is ons leerlinge anders, het hulle ’n spesiale plek in God se hart,” het sy by die geselligheid om die pryse eers aan die junior groep en daarna aan die senior groep te oorhandig, gesê.
Ná die gesellighede om die pryswenners aan te wys, het Bloemnuus elke leerling bederf met ’n lekker eetdingetjie om hulle te bedank vir hul deelname aan die kompetisie.
Pholoho se leerlinge het ook ’n prys in Bloemskou se kreatiewe handwerk-afdeling gewen vir die talle handwerk-artikels wat hulle ingeskryf het.
- Marlene Koster (8) van die Laerskool Bloemfontein was die wenner van die inkleurwedstryd en kon haar gesin na Bloemskou neem.
Altesaam 1 200 kinders het aan dié kompetisie deelgeneem.