Die Hoërskool Sentraal gaan binnekort die eerste skool in Bloemfontein wees met ’n 50 m- verhitte swembad met die toepaslike elektronika en vereistes om volwaardige swemgalas aan te bied.
’n Jaar nadat Charles Liversage as skoolhoof by Sentraal oorgeneem het, word daar aan dié groot swembadprojek gewerk.
“Ons hoop die swembad sal op 1 November geopen kan word, en dat ons dan gereeld galas hier sal aanbied,” sê Liversage oor dié droom wat nou waar word.
Fase 1 van die projek is reeds op dreef, met die swembad wat dieper gemaak word en die elektroniese en verhittingtoerusting wat aangebring word.
Wanneer dié fase voltooi is, sal die swembad aan die riglyne van die Internasionale Swemfederasie (Fina) voldoen.
Liversage sê die swembad gaan benewens swemmers ook leerlinge tot voordeel strek wat sportsoorte soos menseredding, onderwaterhokkie, tweekamp en ander sportsoorte van dié aard beoefen.
“Twee swemklubs het reeds aangedui dat hulle graag hier sal wil oefen.”
Hy sê die projek is vir hom belangrik juis omdat die Stadion-swembad se onderhoud nie meer op peil is nie.
“Leerlinge sal hier in ’n veilige omgewing kan oefen en aan swemsportsoorte deelneem.”
Die volgende fase wat vir die toekoms beplan word, is om dit in ’n binnenshuise swembad te omskep.
“Dit is ’n voorreg om deel van ’n skool te wees wat vir die regte redes op almal se lippe is,” sê Liversage oor sy eerste jaar by die skool.
Hy het in Augustus verlede jaar hier as hoof oorgeneem.
“Dis regtig ’n fees om ’n Tralie te wees.”
- Sentraal vier dié naweek sy 117de verjaardag met allerlei aktiwiteite, wat ’n Traliefees met die musiekgroepe Rooksein en Die Heuwels Fantasties insluit. Die musiekfees vind Saterdag (27/08) plaas. se kKaartjies vir die geleentheid kos R200 en is by quicket.co.za beskikbaar.
Benewens die fees kan besoekers uitsien nasal reünies wat oor die naweek plaasvind.