Vanjaar is gevul met pret en lekker gesellighede om die Bambi Pre-primêre Vroeë Kinderontwikkeling- en Stimulasiesentrum se 50ste bestaansjaar te vier.
Dié Afrikaanse, Christelike skool in Westdene, bied vanjaar reeds 50 jaar ’n plek waar kleuters van twee jaar oud tot gr. RR-kinders kan leer en speel om hulle voor te berei vir die skooljare wat kom.
Anneléne Pretorius, skoolhoof van Bambi, sê die skool is in 1973 by ’n huis in Kellnerstraat begin.
Die skool het later na die Sondagskoolklassies van die NG kerk Bloemheuwel geskuif waar dit deur die jare in ’n eiesoortige kleuterskool ontwikkel het.
“Een van die tradisies wat al jare lank deel van dié skooltjie is, is die oulike skoolklere,” vertel Pretorius.
“Ons hou ook tema-dae waarop die kinders volgens tema kan aantrek, soos Lawwe Haredag en Indiane-dag.”
Die terrein waar die kinders speel, is groot met ’n verskeidenheid speel-apparate wat elk ontwikkel is om die kinders se groot motoriese ontwikkeling te stimuleer.
Saam met die 104 leerlinge is daar ook 11 skilpaaie wat tuis is tussen die speel-apparate.
Oumie, Nonna en hul vriende help om die gras mooi kort te hou en bied vir leerlinge die geleentheid om meer oor skilpaaie en die natuur te leer.
Die skool het ’n lisensie om die skilpaaie te huisves en personeel van die departement natuurbewaring kom haal die nuwelinge wat hier gebore word, om hulle elders in die veld te vestig.
“Een van ons tradisies is die ysies wat kinders ná buite-speeltyd kry. Baie kinders onthou vir jare daarna steeds dié lekker gebruik.”
Pretorius sê die belangrikste by die skool is dat die kinders mooi herinneringe moet hê van hul tyd by Bambi.
“Die kinders is vir ons gegee om elkeen ’n geliefde deel van ons familie te word. Ons is so dankbaar dat die Here ons deur die afgelope 50 jaar gedra het,” sê sy.
Bambi is ’n voerskool vir die Laerskool Willem Postma vir gr. R-leerlinge.
Om die 50ste verjaardag te vier, is daar reeds verskeie geleenthede aangebied. Dit sluit ’n prettige mini-kleurwedloop in, asook ’n konsert waar die kleuters die vyf dekades van die skool se bestaan uitgebeeld het.