Dit is vanjaar die 40ste bestaansjaar van die Hoërskool Fichardtpark.
Om hierdie mylpaal in die skool se geskiedenis te vier, word op 18 Julie om 18:30 ’n feeskonsert in die skoolsaal aangebied.
’n Massakoor bestaande uit al die gr. 8- en gr. 9-leerlinge, die skoolkoor, oudkoorlede en die Klinkklaar Vokale Ensemble sal op die geleentheid optree.
Die volgende oud-personeellede en leerlinge sal verdere luister aan die aand verleen: Lydia du Plessis; Jacobus Silwer; Louwna Erasmus; Jaco Spies; Luzanne Eigelaar; Diandra Steenekamp, Ellané Kotzé saam met haar ma, Ella Kotzé; die Huygen Trio; en Renée Ferreira.
Mario Lategan en Jaco Spies tree as programleiers vir die aand op.
Joanita Erasmus-Alt, organiseerder van die geleentheid, sê dit is vir die skool ’n voorreg om op hierdie aand ook die verhoog te deel met Coenie de Villiers.
Hy sal onder meer sy groot treffer “Karoonag” saam met die massakoor sing.
Kaartjies kos R150, en gehoorlede kan ligte verversings geniet.
Vir besprekings, kontak Erasmus-Alt by 082-886-1888.