Skool-vreugdes in aftrede gekoester

Eljo Botes, passievolle hoof van die preprimêre-afdeling van die Laerskool Pres. Brand in Bloemfontein, het einde verlede jaar ná 27 jaar die tuig by die skool neergelê.


Eljo Botes, passievolle hoof van die preprimêre-afdeling van die Laerskool Pres. Brand in Bloemfontein, het einde verlede jaar ná 27 jaar die tuig by die skool neergelê.

Sy was in 1994 deel van die span toe dié skool ontstaan het.

Dit was toe sy gehelp het om die motorbande op die skool­terrein te “plant” en te verf, waarop die kleuters kon klim en klouter.

Hulle het die skool met twee klasse begin – vandag is daar vyf, met kinders tot in gr. O. Dit is almal kinders van drie tot ses jaar oud. Daar is ook vyf onderwysers, vyf assistente en ’n sekretaresse.

“Wat ek die heel meeste gaan mis, is die kinders se sêgoed,” sê Eljo.

“Daardie opregte sêgoed is baie spesiaal.”

Sy sê kinders word baie jonk na die skool gebring.

“Die skool berei kinders voor vir lees, skryf en somme maak. Die kinders is beslis baie skoolgereed wanneer hulle hier vertrek en het ook reeds baie maats gemaak en geleer om te sosialiseer.”

Eljo sê sy het vroeër jare vir een en ’n half jaar ook in Virginia by ’n preprimêre skool gewerk en het later in Brandfort haar eie kleuterskool gehad. Nog later, in Bloemfontein, het sy ook by speelgroepies gehelp.

“Van die kinders wat destyds kleuters was waar ek gewerk het, hou nou by ons skool.”

Sy is wel dankbaar dat sy nie nou meer om 04:00 soggens sal moet opstaan om elke oggend 06:30 by die skool te wees nie, want sy het winter en somer daarin geglo om die voorbeeld te stel om die hekke oop te sluit – ook dat die klaskamers om 06:45 oopgesluit moet wees en die ligte moet brand.

Eljo sê sy sien uit na die aftree-fase van haar lewe “want nou kan ons buite seisoen rondry en vakansie hou.”

Sy sê sy wil graag darem vir al die ouers dankie sê vir al die jare se ondersteuning.

“Ek wil ook die skool net die beste vir die toekoms toewens.”

Eljo sê sy sal altyd met liefde aan al die herinnerings aan die skool terugdink.

“Ek onthou dat dit min nodig was om te baklei of om kwaad te word oor iets. Ek sal die rustigheid mis.

“Dit was ’n besonderse voorreg om by die grondslag van kinders vir die volwaardige volwasse lewe betrokke te kon wees en hul wegspring saam met hulle te kon meemaak.”

Sy onthou ook al die goeie kollegas wat oor die jare heen saam met haar gewerk het.

“Nou gaan ek net lees, in my orgideekamer tee drink, in my tuin vroetel, rondry, kaste regpak en met vriendinne tee drink.”

Eljo se man is die DA-raadslid, Rossouw.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.