Ná twee jaar sonder ’n permanente skoolhoof by die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein, het die nuwe hoof haar verlede week vir diens aangemeld – “geweldig opgewonde oor die nuwe avontuur” wat vir haar voorlê.
Riana Nel (50) is reeds 27 jaar in die onderwys. Sy was die afgelope 23 jaar verbonde aan die Hoërskool Bloemfontein, waar sy sedert 2013 adjunkhoof was.
“ ’n Mens moet nooit ophou droom nie. Soms neem dit langer om jou drome te bereik, maar ’n mens moet altyd aanhou droom,” sê sy in haar nuwe kantoor.
Die skool se voormalige hoof, Willem du Buisson, het met ingang 1 Januarie 2022 by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal in die Wes-Kaap as skoolhoof ingeval.
Nel sê as leier is dit belangrik om jou span te raadpleeg oor besluite, maar soms moet ’n mens ook op jou eie besluite neem.
Sy streef daarna dat die besluite wat geneem word, opbouend sal wees en vir ’n vooruitstrewende skoolgemeenskap sal sorg.
Haar jare lange onderwyser Christo Hattingh, wat later ook haar kollega geword het, het haar geïnspireer om ’n onderwyser te word.
“Hy het my aangemoedig om die professie te betree en het ’n reuse-rol in my loopbaan en lewe gespeel. Hy is verlede jaar oorlede.”
Net soos haar geliefde onderwyser ’n verskil in haar lewe gemaak het, hoop sy om ook ’n verskil in haar leerlinge se lewe te maak.
“Ons het ’n groot behoefte aan passievolle onderwysers in Suid-Afrika en ek hoop om ’n voorbeeld vir my leerlinge te stel wat hulle ook passievol sal maak oor die beroep.”
By Sand du Plessis wil Nel graag ’n omgewing skep waar akademie vir die leerlinge belangrik is en waar elke leerling sy of haar volle potensiaal bereik.
“As jou potensiaal is om 60% te bereik, wil ons hier vir jou ’n omgewing skep waar jy jou alles kan gee om daar uit te kom. Dieselfde geld vir diegene wat ’n potensiaal van 80 % of 50 % het.
“Ons wil vir die leerlinge ’n kans op ’n goeie toekoms help bou.”
Nel sê sy is nie net dankbaar vir die vriendelike span nuwe kollegas aan die skool nie, maar ook vir haar hegte gesin.
Haar man, Riaan, en hul 20-jarige seun, Riandré, was ook op Donderdag 1 Februarie by die skool om haar eerste saalbyeenkoms saam met haar by te woon.
“My seun was aan die Hoërskool Bloemfontein ’n leerling, so ek was voorheen ’n ma en ’n onderwyseres by die skool. Hier kan ek nou my eie ding as net ’n onderwyseres doen.
“Maar sonder hul ondersteuning en liefde sou niks hiervan moontlik gewees het nie,” sê sy.