Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, met die splinternuwe uitgawe van FEDSAS sakpaswette: Skoolbeheer en die reg. Foto: Verskaf

Ter viering van ‘n eeu van Afrikaans as amptelike taal maak die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) dit nou vir gebruikers van Afrikaans selfs makliker om na die letter van die onderwyswet op te tree.

Die 2025-weergawe van die publikasie FEDSAS sakpaswette: Skoolbeheer en die reg vat al die belangrikste skoolwette en -regulasies op een plek – én in Afrikaans – saam.

“Ons doelwit is om wetgewing, beleid en regulasies toeganklik te maak,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

“Hierdie boekie is daarom Fedsas se geskenk aan Afrikaans.”

Fedsas is ‘n amptelike vennoot in die jaar-lange Afrikaans 100-veldtog, wat opbou tot Afrikaans se amptelike verjaardag op 8 Mei.

Deacon sê Fedsas het in 2009 met die uitgewer Juta hande gevat om wetgewing, beleid en regulasies met betrekking tot onderwys in ‘n gerieflike en gebruikersvriendelike sakpasformaat saam te vat. Fedsas het verantwoordelikheid vir die Afrikaanse weergawe aanvaar en behartig die vertaling op eie koste.

“Die regstegniese vertaling is ‘n reuse-taak. Dit is egter ‘n noodsaaklike hulpbron vir skole, skoolbeheerliggame en ander betrokkenes in onderwys. Die 2025-weergawe bevat al die nuwe beleid en regulasies, insluitend die wysigings in die Suid-Afrikaanse Skolewet soos bepaal deur die Bela-wet, asook die Wet op die Indiensneming van Opvoeders.”

Deacon sê Fedsas ontsluit só soms moeilike en tegniese dokumente in Afrikaans.

“Ons is egter ook trots op die bydrae wat ons hiermee tot die hoërorde-funksies van Afrikaans as ampstaal lewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.