Adv. Allen Simpson het Saterdag Peetstraat langs die landdroshof in Bloemfontein skoongemaak.Foto: Mlungisi Louw


’n Advokaat en deeltydse boer van die Vrystaat het Saterdag (19/08) self skouer aan die wiel gesit en met die hulp van drie helpers Peetstraat langs die landdroshof in Bloemfontein netjies gemaak.

Adv. Allen Simpson, ’n advokaat in private praktyk wat ook deeltyds tussen Brandfort en Theunissen boer, sê hulle het ’n bakkievrag vol vullis weggery nadat hulle die straat ure lank skoongemaak het.

Simpson vertel hy het verlede week in die straat stilgehou toe hy by die landdroshof moes wees.

Hy kon skaars uit sy bakkie klim so hoog was die onkruid wat op die sypaadjies gegroei het.

Dit was ook verskriklik vuil met rommel wat oraloor gestrooi was.

“Ek het besef iets moet gedoen word – nie net om dit beter te maak vir myself as ek hof toe moet gaan nie, maar ook vir diegene wat elke dag daar moet stap.”

Simpson, wat langer as 32 jaar ’n staatsaanklaer was, sê hy sien hoe Bloemfontein agteruitgaan, maar het nooit enigiets daaraan gedoen nie.

Totdat hy verlede week besef het dat hy dit “ ’n bietjie beter” vir homself en ook vir ander kan maak.

“Sedert ek sowat ’n maand gelede in private praktyk gegaan het, het ek tot nuwe insigte gekom. Ek probeer dinge anders doen.”

Simpson stel die uitdaging nou aan sy kollegas in private praktyk en voormalige kollegas in die staatsdiens om ook skouer aan die wiel te sit, “al is dit om die een kant van ’n straat skoon te maak en dit ’n bietjie beter vir almal te maak”.

You need to be Logged In to leave a comment.