Gerrit Brtandt vra sy meisie Toni Leigh Oosthuizen om met hom te trou op die skietbaan.

BLOEMFONTEIN. Dit het ‘n week se beplanning geverg om sy geliefde Saterdag op ‘n Vrouedag-skietgeleentheid te vra om sy vrou te word.

So vertel Gerrit Brandt wat Saterdag 9 Augustus gehelp het by die skietdag, wat spesiaal vir vroue op Vrouedag aangebied is.

Hy het vir Toni Leigh Oosthuizen vyf maande gelede ontmoet en ‘n maand later het hulle begin uitgaan. “Ek het van die begin af geweet sy is my trouvrou,” sê hy in ‘n stemnota.

‘n Soentjie vir die verloofdes. Gerrit Brandt soen vir Toni Leigh Oosthuizen nadat hy haar Saterdag op die skietbaan gevra het om te trou. FOTO: Verskaf

“Vrydag voor die skietdag was ons vier maande saam en ek het besluit om haar Saterdag op die skietbaan te vra om te trou. Dit was ‘n logistieke uitdaging om alles gereël te kry en te reël dat die families ook daar is.”

Die beplanning was om haar te vra net nadat sy om 13:00 geskiet het.

“Dit was moeilik om my konsentrasie op my werk te hou tot dan. Kort voor een het ek vir haar gesê sy moet nou gaan skiet. Sy het nog teëgestribbel en gesê dat sy moet werk.

Edith Mohotsi en Sharon Letooane reg vir die groot Vroue-skietdag. FOTO: Lientjie Mentz

“Sy het vyf skote geskiet. Sy sit hulle so bitter mooi op daardie teiken neer,” vertel hy. “Toe sy klaar geskiet het, gesels sy nog so met die baanbeampte, toe sien hy ek staan op my een knie. Hy draai haar toe aan haar skouers om na my toe. Die hele wêreld het vir ons tot stilstand gekom in daardie oomblik. Ek kon nie praat nie.”

Ná ‘n rukkie het hy haar gevra: “Is dit ‘n ja,” en sy het gesê “ja”.

Gerrit sê dit was lekker om dit met familie en sy vriende – wat ook baaninstrukteurs is, te deel.

Zane Koeberg van Koeberg Fire Solutions wat die dag aangebied het, sê die dag was ‘n reuse-sukses.

Daar was 150 vroue en almal het dit baie geniet. “Uit die groep het 43% nog nooit aan ‘n vuurwapen gevat nie. Dit is baie meer as die 18% van verlede jaar,” sê Koeberg.

“Ons doel met die dag was om talle wanpersepsies dat wapens net met geweld verbind word, uit die weg te ruim. Dit is ‘n baie lekker sport.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article