Van die stad se mooiste clivias gaan van Vrydag 16 September tot Sondag 18 September in die Fleurdal Mall te sien wees wanneer die eerste cliviaskou in twee jaar daar aangebied word.
André du Toit van die Vrystaat-cliviaklub, sê dit gaan ’n mooi geleentheid wees met belangstellendes wat na die uitstalling kan kom kyk en clivias wat ook te koop aangebied word.
Du Toit, wie se tuin nou oortrek is met die helderkleurige prag van clivias, sê dit is lekker vir die klublede om die eerste keer ná die inperking weer volwaardig skou te kan hou en nou voorbereidings daarvoor te tref.
In sy tuin in Westdene is daar tussen 3 000 en 4 000 plante.
“Die plante blom vanjaar vroeg en hulle blom ook meer ná die goeie reën vroeër vanjaar.”
Du Toit sê dit is interessant dat die blomme ook vanjaar ligter vertoon.
“Dit is moontlik oor al die bewolkte weer wat ons deur die winter gehad het”.
Hy het ná sy aftrede begin met die versameling van clivias.
“Dit is ’n bevredigende stokperdjie. As ek in die tuin stap, voel dit asof ek in die hemel is. Clivias groei vir die res van jou lewe. Dit is plante wat baie oud kan word en suiers maak waarmee die plant voortplant. Die plante werk goed in die grond en in potte.”
Hy het ’n wye verskeidenheid clivias in alle kleure van lig geel tot donker oranje en verskeie interspesie-variëteite. Du Toit sê clivias groei goed in spikkelskaduwee in Vrystaatse tuine.
Hy sê die klub bestaan uit 32 lede wat gereeld vergader en inligting uitruil.
“Die klub sal graag meer jongmense wil trek.”
Hy sê tydens die inperking is die plaaslike en nasionale skoue virtueel aangebied.
“Die interspesie-skou het egter so goed aanlyn gewerk, dat dit steeds so sal voortgaan.”
Hy sê die Cliviavereniging van Suid-Afrika se aanlyn skou het talle deelnemers van oor die wêreld heen getrek.
- Die plaaslike skou volgende naweek word voor Woolworths in die Fleurdal Mall aangebied en die wenners sal Saterdag (17/09) om 13:00 bekend wees. Bel Du Toit by 084-811-0152.