Terwyl die Mangaung-metro by die dag agteruit gaan, word die verantwoordelike amptenare se salarispakette verhoog.
Die besluit om die salaris van die stadsbestuurder en departementshoofde se salaris met 1,5% te verhoog, is Maandag (13/02) op ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur. Die DA, EFF, VF Plus, ACDP en die AASD het teen die besluit gestem.
Henry Denner, VF Plus-raadslid sê die metro het in die 2021’-22-boekjaar waterverliese van sowat R406 miljoen gelei.
“Dit is sowat 45% van die totale hoeveelheid water wat die munisipaliteit aangekoop het. Hierdie gesuiwerde water gaan verlore weens gebrekkige waterinfrastruktuur, swak instandhouding, water-lekkasies, gebarste pype en watervoorsiening aan erwe sonder watermeters. Dit alles kan voor die deur van swak bestuur gelê word.”
Boonop sluit die metro die boekjaar met ’n reuse-verlies van R900 miljoen af volgens die verslag van die kantoor van die ouditeur-generaal wat ook op dié vergadering ’n voorlegging gedoen het
Denner sê 1,5% klink dalk min en word as ’n sogenaamde lewenskoste-aanpassing aangebied, maar die verhoging beteken dat die stadsbestuurder dieselfde as ’n minister sal verdien.
Hy verduidelik dit is die hoogste salarisperk vir ’n stadsbestuurder wat reeds R2,3 miljoen verdien en departementshoofde wat R1,9 miljoen verdien.
“Die lewenskoste-aanpassing vir ’n munisipale amptenaar wat reeds so baie verdien in een van die munisipaliteite wat die swakste in die land bestuur word, is ’n skreiende skande.”