Skrif nie aan muur vir outeur

As die hadida oor ’n huis vlieg en sy angs roep oor die vallei, dan sê hulle dat iemand gaan sterf. Dit is dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kom as antwoord hierop. Hierdie woorde het ’n geslag radioluisteraars laat drafstap om die volgende episo



As die hadida oor ’n huis vlieg en sy angs roep oor die vallei, dan sê hulle dat iemand gaan sterf. Dit is dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kom as antwoord hierop.
Hierdie woorde het ’n geslag radioluisteraars laat drafstap om die volgende episode van Wolwedans in die Skemer op die destydse Springbokradio te luister.

Ná die koms van televisie het die soeke na die misterieuse verdwene skrywer Jacques Rynhardt in die reeks Ballade vir ’n Enkelingdie verbeelding aangegryp.

Die skrywer van dié reekse, Leon van Nierop (70), het Vrydag (11/08) in Bloemfontein gekuier. Hy het praatjies gelewer en ’n versameling van sy manuskripte – wat boeke en meer as 600 resensietekste, draaiboeke, vervolgverhale, verwerkings en ander skryfwerk insluit – aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) geskenk.

In die groei en bloeitydperk van Afrikaanse media was Leon se storiestem immer teenwoordig. ’n Nuwe geslag kon danksy sy skryf- en regie-talent luister na programme soos Stralerjakkers, Ratels, ’n radioverwerking van Het van Verlangekraal, en vele meer. Hy doen steeds weekliks rolprent­resensies, skryf vir die media, en sy 38ste roman, Duiwelsroos, verskyn einde September by Tafelberg.

Om Leon se werk bymekaar te sien is inspirerend. Nie alleen getuig dit van talent en kreatiwiteit nie, maar ook van verbysterende deursettingsvermoë. Daar is stapels tekste wat nog op ’n tikmasjien getik is, boek­omslae wat getuig van hoe modes en neigings in die grafiese ontwerp daarvan verander het, asook 28 oorspronklike titels.

Leon se raad aan mense wat vryskutwerk wil doen, is dat ’n mens moet glo in wat jy doen, lief wees vir wat jy doen, en dit dan na die beste van jou vermoë doen. Wanneer ’n mens na Leon se versameling by Naln kyk, is dit duidelik dat hy nie net dié raad gee nie, hy leef dit.

Hoewel sy handtekening ná sy besoek ook aan die muur van Naln se Ketelkelder pryk, is dit duidelik dat die skrif nog nie naastenby aan die muur is vir hierdie Suid-Afrikaanse legende nie.

Danksy mense soos Leon van Nierop en instansies soos Naln is dit veilig om te sê dat die hadida nog nie naastenby oor die huis van Afrikaans sal vlieg nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.