Die Afrikaanse Bybel word die laaste naweek van Augustus 90 jaar oud, en ’n groot viering word in Bloemfontein beplan waarheen almal genooi is.
Dr. Elrika Senekal-Van der Berg, woordvoerder vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, sê elke keer dat die Afrikaanse Bybel verjaar, nuut bekend gestel of in ontvangs geneem word, het dit nog altyd in Bloemfontein plaasgevind.
Die feesgeleentheid in dié stad op 26 Augustus is by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, van 14:00 tot 18:00, terwyl ’n gedenkdiens die Sondag om 09:00 in die NG kerk Langenhovenpark in Boerneefstraat gehou word.
Die toegang by albei geleenthede is gratis, maar skenkings word gevra vir die goeie saak van die Bybelgenootskap wat met Bybelverspreiding en -vertaling gemoeid is.
Senekal-Van der Berg sê die skilder Ilse Kleyn kom ook spesiaal na die geleentheid om haar kunswerk, wat in opdrag van die Oorlogsmuseum gedoen is, amptelik aan die museum te oorhandig. Die skildery is sowat 1,8 m in deursnee en gedenk die Afrikaanse Bybel, sowel as die tema van mossies wat deur die Bybel loop, regdeur die Anglo-Boereoorlog tot in geldstukke en ook vandag.
Daar gaan ook by die Oorlogsmuseum ’n groot uitstalling van Bybels wees van byvoorbeeld die Hollandse tydperk en dié wat in die oorlogstyd weggebêre is.
Senekal-Van der Berg sê die Victoriaanse tyd was ’n tyd van aandenkings en die Britse soldate in Suid-Afrika was lief daarvoor om Hollandse Bybels as aandenkings te neem.
“Die probleem is dat Afrikanerfamilies se geslagsregisters in die Bybels opgeteken is. As die Bybel weg is, is die hele familiegeskiedenis weg.”
Ná die oorlog het die Kwakers (“Quakers”), ’n kerkgroep in Engeland, daarop aangedring dat Engelse soldate wat Hollandse Bybels gesteel het, dit na Suid-Afrika terugstuur.
Gidse sal beskikbaar wees om besoekers deur die museum te neem, en lede van die genealogiese vereniging gaan help om hul familiegeskiedenis na te speur. ’n Simfonie-orkes gaan ook optree en ’n kunsmark met stalletjies sal besoek kan word.
Die Bybelgenootskap nooi mense om aan sy mikro-Camino deel te neem.
“Die mikro-Camino word vir die eerste keer gehou en is op die terrein van die Oorlogsmuseum. Oud en jonk sal die mikro-pelgrimsreis rustig kan stap.
“Afstande is 1 km, 2 km, 3 km of 4 km, en ’n fooi van R50 sal vir die Pelgrims-Camino betaalbaar wees.”
Vir besonderhede, bel Linda Müller by die Bybelhuis by 051-444-5980 oor die program by die Oorlogsmuseum of die gedenkdiens in die NG kerk in Langenhovenpark.
Senekal-Van der Berg sê die jongste Bybelvertaling in Afrikaans het R25 miljoen gekos, en dat daar elke 20 jaar ’n nuwe vertaling moet wees omdat die taal dinamies is en verander.