Skrywer dra roos aan Bloemfontein op

’n Suid-Afrikaner wat ’n groot impak gehad het op talle kreatiewe mense oor baie jare.


’n Suid-Afrikaner wat ’n groot impak gehad het op talle kreatiewe mense oor baie jare.

“Moenie dink nie, doen net,” het Leon van Nierop een van die bekende frases uit sy verhaal Balade vir ’n Enkeling gebruik toe hy ’n gitswart roos aan Annelien Diedericks van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) oorhandig het.

“Ek dra hierdie roos op aan die Bloemfonteiners, aan die Afrikaanse taal, die mooiste taal in die hele wêreld.”

Bloemfonteiners kon Saterdag luister na die talle praatjies uit dié skrywer, rolprentresensent en omroeper se roemryke loopbaan tydens een van Naln se gesellighede om dié instansie se 70ste bestaansjaar te vier.

In die gesprek wat Bloemfonteinse skrywer Fanie Viljoen met Van Nierop gevoer het, het hy vertel oor sy loopbaan en oor sy 37ste roman, Duiwelsroos.

Van Nierop was die skrywer van die bekende radiovervolgverhaal Wolwedans in die Skemer wat hy as opdragwerk geskryf het.

“Binne twee maande het die luisteraars van 100 000 na 1 miljoen vermeerder,” vertel Van Nierop oor dié geskiedkundige tye in radio-vervolgverhale.

“Ons het vir 15 maande lank mense aan die raai gehou oor die moordenaar. Selfs die akteurs het nie geweet wie nou eintlik die moordenaar is nie.”

Hy vertel hy hou baie daarvan om “knus speurverhale” te skryf.

“Dit is iets wat jy voor ’n kaggelvuur sit en lees en jou behoorlik aan die raai hou. Dit is lekker om mense te verras.”

You need to be Logged In to leave a comment.