Skrywer se vlerke sprei nou wyer, verder

Bloemfonteinse skrywer Jaco Jacobs se boek Die meisie met vlerke gaan nou ook buite Suider-Afrika gepubliseer word nadat die regte aan Oneworld Publications verkoop is.


Bloemfonteinse skrywer Jaco Jacobs se boek Die meisie met vlerke gaan nou ook buite Suider-Afrika gepubliseer word nadat die regte aan Oneworld Publications verkoop is.

Jacobs, die skrywer van meer as 260 kinderboeke, is al talle kere vir sy werk vereer en het 46 pryse agter sy naam.

Meer as ’n miljoen eksemplare van sy boeke is al verkoop en van sy werk is ook in Engels, Nederlands, Italiaans, Spaans en Sloweens vertaal. Twee van sy boeke is in rolprente omgeskep.

Die inspirasie vir dié boek het Jacobs op die internet gekry.

“Ek het eenkeer afgekom op ’n foto van ’n jong vrou met vlerke – nie wit engelvlerke soos in ’n Kinderbybel nie, maar groot, sterk voëlvlerke.”

Dit het sy storiebrein geprikkel.

Hy voeg by dat die boek uiteindelik gaan oor anders wees en om dit wat jou anders as ander mense maak, te omhels eerder as om bang te wees of skaam te wees daaroor.

“Ek is verheug om my verbintenis met Oneworld voort te sit. Dit is ’n wonderlike ervaring om ’n boek by hulle uit te gee en ek kan nie wag om te sien hoe Die meisie met vlerke haar vlerke oorsee sprei nie,” sê Jacobs in ’n verklaring.

Die verhaal is iets wat hom na aan die hart lê en hy is bly dit kan nou meer lesers bereik.

Die boek gaan oor ’n ietwat buitengewone meisie genaamd Wil­son. Sy woon saam het haar ma en stiefpa in ’n huis met wiele.

Hulle trek gedurig ná elke paar maande en dit frustreer haar baie – byna so erg soos haar nuwe maat, Errol.

Sy het gedink haar nuwe dorpie, Verkeerdevlei, gaan net so vervelig wees soos al die ander dorpies, tot sy iets uitsonderlik ontdek wat geheim gehou moet word.

Carrington Swarts

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.