Bloemfonteinse skrywer en kunstenaar Sjaka S. September bied van Vrydag tot Sondag ’n skryfwerksessie aan vir alle ervare en onervare skrywers.
“Ons nooi mense met baie ondervinding, wat honger is om te leer, maar ook diegene wat nog nooit pen op papier gesit het nie. Almal is welkom,” sê Sjaka.
“Met die werksessie gaan ons daarop fokus om mense met nuwe oë na hulself en hul werk te laat kyk. Ek sal nuwe skrywers graag help om daardie eerste tree op ’n avontuur te gee.”
Sjaka verduidelik hy gaan in die werksessie aandag gee aan ritme en poësie.
“Moenie bekommerd raak as jy dink dat jy nie ’n digter is nie. Dit gaan ook oor die ontdekking van die poëtiese in jou stories; om kortverhale of ’n roman met die poëtiese te verryk.
“My uitgangspunt is dat skryf lekker moet wees. Ons leer deur te speel. Ek gebruik verskillende tegnieke uit ander velde om hiermee te help.”
Dit is waar sy vrou, kunstenaar Isabelle Grobler, ’n rol speel. As ’n opgeleide asemhalingspraktisyn gebruik sy tegnieke om nuwe lewe te ontsluit in die hand wat op die bladsy lê.
“Kom speel saam en vind self uit hoe ritme, asemhaling en speel jou kan oopmaak vir spontane spel op die bladsy. Ek wil jou die gedigte wat in jou siel sing, laat voel.”
Die werksessie begin môre om 18:00 by die My Blom-studio. Dit duur Saterdag van 10:00 tot 16:00 en Sondag van 10:00 tot 12:00.
Skrywers betaal R1 500 vir bywoning, asook etes en versnaperings. Bespreek plek by Melinda Bekker by 083-632-9662.