’n Voormalige boedelklerk wat miljoene uit bestorwe boedels by twee van die bekendste prokureursfirmas in Bloemfontein gesteel het, is Vrydag tot effektief agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuld op meer as 1 300 aanklagte beken het.
Streeklanddros Collin Nekosi het Herman Badenhorst (35) op 387 aanklagte van bedrog tot 15 jaar tronkstraf gevonnis waarvan sewe jaar vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy hom in dié tydperk nie weer aan bedrog of diefstal skuldig maak nie.
Hy is verder op 496 aanklagte van die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.
Badenhorst is ook twee jaar gevangenisstraf opgelê op 477 aanklagte van die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.
Nekosi het gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word en Badenhorst is dus tot effektief agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Luidens die klagstaat het Badenhorst R4,9 miljoen by Phatshoane Henney-prokureurs en R4,3 miljoen by Matsepes-prokureurs van insolvente en bestorwe boedels gesteel.
By Phatshoane Henney, waar hy van 2008 af sowat tien jaar lank gewerk het, het hy altesaam R24,5 miljoen tussen die verskillende boedelrekeninge rondgeskuif om sy bedrywighede te verbloem. Deur sy toedoen het Phatshoane Henney skade van R4 930 995 gely, lui die klagstaat.
By Matsepes, waar hy met insolvente boedels gewerk het, het hy pleks van betalings aan skuldeisers te doen, die geld in sy eie bankrekeninge betaal.
Luidens die pleit-en-vonnisooreenkoms sê Badenhorst dat hy die gesteelde geld gebruik het om familie en vriende te help. Vanweë sy posisie en inkomste was hulle gemaklik om hom vir geldelike bystand te vra en hy was onder druk om te help. Hy sê hoe meer hy gehelp het, hoe meer is van hom verwag, aldus die ooreenkoms.
Die ooreenkoms lui verder dat hy nie kon byhou nie en dat sy familie onder die indruk was dat die geld van sy salaris kom. Hy was ook onder druk om sy bejaarde ouers, wat nie hul eie mediese uitgawes kon betaal nie, te help.
Volgens die ooreenkoms is geen van die geld gebruik vir persoonlike luukshede nie en is alles aan ander mense bestee.